Nina en Verena trap Mallorca plat

Fietsry
Andrew Poolman
Nina Holtrup van Swakopmund en haar Duitse spanmaat Verena Walter was gister goed geplaas om die kompetiusie vir spanne van twee in die Termes53 bergfietsresies op die Spaanse eiland Mallorca te wen.

Teen druktyd gister laatmiddag het Holtrup en Walter reeds die 800-kilometermerk van die totale afstand van 870 km verbygesteek en was steeds in die voorste posisie van alle spanne van twee (mans, vroue of gemeng).

Die ultra-resies wat deur elk van die 53 munisipale gebied van Mallorca strek, is ‘n avontuur waarin ryers hul eie voorraad en en toerusting moet saam dra en nie op enige ondersteuning kan staatmaak nie.

Die taak word verder bemoeilik deur die steil klimgedeeltes wat op ‘n totaal van bykans 14 000 meter te staan kom.

In ‘n boodskap Maandag uit Mallorca het Holtrup, wat reeds in Nedbank Desert Dash-byeenkomste haar staal getoon het, laat weet: “Die klimme is nimmereindigend en die afdraandes maak jou senuwees klaar, maar ons het Pollença veilig bereik. Ons beplan om ná aandete tot by Cap Formentor te ry en te kyk of ons daar kan kamp opslaan.

“Hierdie resies is hard, maar ons het nie al die pad uit Namibië gekom om hier te kom huil nie!”

As ‘n toonbeeld van die samestelling van hul span dra Holtrup en Walter elkeen een fietsrysokkie wat die vlae van Namibië en Duitsland vertoon.