O.19's hou hul WB-kans lewendig
Krieket
Namibië se junior krieketspan is oor die eerste twee hekkies in sy pad om in Lagos, Nigerië, die ICC Onder 19 Wêreldbeker van 2026 se Afrika-uitduntoernooi te wen.Vrydag se oorwinning teen Nigerië moes egter diep uit die kake van ‘n nederlaag gered word, nadat die Walvis Bay Salt Salt Eagles vir ‘n beskeie 133 uitgeboul is.
As dit nie vir die 44-vennootskap tussen hul laaste kolfpaar Junior Taanyanda (18 lopies) en Max Heingo (22) was wat op 89/9 bymekaar gekom het, sou die Namibiërs beswaarlik die pyp gerook het.
Nigerië se aanvangsbouler Ukasha Isiyaku (10-0-34-5) en aanvangskolwer Rahmon Ali met ‘n vyftigtal (53 van 46 balle, 4x4 3x6) het hul deel gedoen om die Namibiërs die skrik op die lyf te jaag.
Erik Lintvelt (2/22 in 10 bb; vyf leë boulbeurte), Francois du Plessis (2/33 in 10), Rowan van Vuuren (2/22 in agt) en Waldo Smith (1/14 in 3) het deurbrake gemaak. Max Heingo (1/17 in 8.2) het die laaste man skoongeboul om die naelskraapse sege met tien lopies te beklink (Nigerië 123 almal uit in 40.2 bb). Lintvelt is as speler van die wedstryd aangewys.
• Saterdag se oorwinning teen Sierra Leone was heelwat gemakliker. Namibië het hierdie keer 161 almal uit opgestel, met die voorste bydraes van Janko Engelbrecht (21 van 21 balle, 5x4), kaptein Francois du Plessis (32 van 61 b; 3x4) en paaltjiewagter Liam Basson (39 van 71 b; 2x4 2x6).
Sierra Leone het nie die skietgoed vir ‘n skokuitslag gehad nie en die junior Eagles het met 46 lopies gewen. Elke Namibiese bouler het minstens een paaltjie geneem – insluitendMax Heingo (1/15 in 7), Dan Brassell (1/31 in agt), Erik Lintvelt (2/29 in 10) en Adriaan Coetzee (1/6 in 3).
Die draaiballe van Rowan van Vuuren (2/9 in 10 bb; vyf leeg) was onspeelbaar, terwyl kaptein Du Plessis (2/23 in 10, drie leeg) se veelsydige bydrae hom die toekenning as speler van die wedstryd besorg het.
• Die Namibiërs speel Dinsdag teen Tanzanië en die volgende dag teen Uganda, voor hul laaste wedstryd teen Kenia (5 April).
Comments
My Zone
No comments have been left on this article