O.20-span soek dringend antwoorde

Rugby
Net vyf van die beginspan het behoue gebly vir die tweede toerwedstryd teen Portugal.
Andrew Poolman

Die Kanadese junior span se genadelose, kliniese vertoning om ‘n wegholtelling van 95-6 teen Namibië op te stapel, het Vrydag harde lesse op die openingsdag van die Wêreldrugby Onder-20 Challenger-toernooi ingehou.

In Chili se hoofstad Santiago sal die Namibiërs se taak geensins makliker word in hul oorblywende groepwedstryde teen Portugal (vandag) en België (komende Maandag) nie.

Kanada se vernuf op die aanval het hul ambisie uitgestal om vanjaar sterk in die toernooi te eindig. Hul losskakel en senters het die spel uitstekend gelees, om met beplande bewegings die Namibiese verdediging te manipuleer, of om met goeie tydsberekening rolskoppe te gebruik om die bal in die pad van buite-agterspelers op volle vaart te plaas.

Met vyftien drieë teen nul, en ‘n rustydtelling van 52-6, is die Namibiese weerstand stelselmatig afgebreek.

Die Namibiërs se enigste punte is binne die eerste 25 minute met twee strafdoele deur die losskakel Mc-Rein van Wyk aangeteken, wat op ‘n keer ook met ‘n presies berekende aangee ‘n spanmaat deur die Kanadese verdediging gestuur het in ‘n beweging wat egter nie afgerond kon word nie.

In een van die min belowende opflikkeringe is die senter Janco Bredenhann agter die Kanadese doellyn verhinder om die bal teen die grond te kry, terwyl agtsteman Roché Brand ‘n slag deurgebreek het, maar sy aangee na die vleuel Soobramoney Sammy het oor die kantlyn geseil. Sammy het ook vroeg in die wedstryd in die hoekie gaan oorduik, maar nie voordat die assistentskeidsregter se vlag opgesteek is nie.

Die Namibiërs het vroeër sonder die losskakel Waldré Kotze (Universiteit van Potchefstroom, en tevore Windhoek Gimnasium) na Chili vertrek, nadat hy by die laaste oefensessie ’n enkelligamentbesering opgedoen het. Vanaf die kortlys is William Beukes na die toergroep bevorder.

 

GROOTSKAALSE VERANDERINGE

Net twee lede van die agttal teen Kanada en drie agterspelers het behoue gebly toe afrigters Johan Zaayman en Jood Opperman gister hul beginspan teen Portugal aangekondig het.

Tjeriko Karuhumba bly die kaptein, maar verskuif van flank na slot. Agtsteman Roché Brand, losskakel Mc-Rein van Wyk en die senterpaar Jano Erasmus en Janco Bredenhann is die enigste ander spelers wat die valbyl vrygespring het.

Namibië o.20 (teen Portugal): 15 Keanan Diergaardt, 14 Bertus Narib, 13 Jano Erasmus, 12 Janco Bredenhann, 11 Jayden Jansen, 10 Mc-Rein van Wyk, 9 Dominique Isaacs, 8 Roché Brand, 7 Isaiah Kazondovi, 6 Connor Burmeister Nel, 5 Kobus Mouton, 4 Tjeripo Karuhumba (kaptein), 3 Daniël du Toit, 2 Jayvin du Plessis, 1 Tauno Hamukoto.

Plaasvervangers: 16 Tiaan van der Westhuizen, 17 Goddard Husselmann, 18 Charlton Binga, 19 Nzola-Menza Nkunku, 20 Romario Hoeseb, 21 Clive Raines, 22 William Beukes, 23 Soobramoney Sammy.

 

WEDSTRYDPROGRAM VANDAG

10:00 Namibië tn Portugal (Namibiese tyd 15:00)

13:00 Hongkong China v Brasilië (Namibiese tyd 18:00)

16:00 België tn Kanada (Namibiese tyd 21:00)

19:00 Chili tn Roemenië (Namibiese tyd 01:00 Donderdag)

• Portugal is in sy openingswedstryd met 15-22 deur België geklop.

• Die toernooi se wedstryde word regstreeks op https://rugbypass.tv/ gebeeldsend.