Ontdek die wêreld van veldboogskiet in Windhoek

Boogskiet
Die uitdaging van akkurate veldboogskiet bly altyd nuut vanweë die wisselende omstandighede en vereistes.
Sportredaksie

Indien jy al ooit in flieks gesien het hoe Robin Hood ’n appel met ’n pyl kloof en gewonder het, “Hoe moeilik kan dit wees?” bied veldboogskiet jou die kans om self uit te vind.

Veldboogskiet is wêreldwyd een van die snel groeiende dissiplines in boogskiet. Die sport kombineer tegniese vaardigheid, konsentrasie en die uitdaging van skiet in ‘n natuurlike terrein.

Internasionaal word die sport deur die International Field Archery Association (IFAA) beheer en dit word in meer as 40 lande beoefen, met boogskutters van alle ouderdomme en vaardigheidsvlakke.

Die sport word dikwels met gholf vergelyk, maar met ‘n boog en pyle, waar veldboogskutters ’n gemerkte staproete deur bosveld, heuwels en oop ruimtes volg. Teikens word op verskillende afstande – vanaf 20 voet (6 meter) tot 80 jaard (73 meter) – en verskillende hoeke geplaas, wat van skutters vereis om telkens die terrein, hoogteverskille en afstand akkuraat te beoordeel.

Geen twee bane of skietervarings is dus ooit dieselfde nie.

Windhoek se oop landskappe bied ’n ideale omgewing vir die sport. In Namibië ressorteer veldboogskiet onder die Boogskietvereniging van Namibië (AAN), wat IFAA‑rondtes as deel van sy amptelike kompetisiestruktuur erken.

Die Windhoek‑veldboogskietbaan by Yellowstone Trails in Ludwigsdorf vergestalt die kern van die sport – uitdagende terrein, natuurskoon en weldeurdagte, gedissiplineerde skietwerk.

Namibiese boogskutters presteer gereeld met sukses buite die landsgrense. Tydens die onlange Suid‑Afrikaanse Veldboogskietkampioenskap, wat van 20 tot 22 Maart 2026 in Bloemfontein aangebied is, het die Windhoekse boogskutters Louan Groenewald en Bea Viviers aan die driedaagse byeenkoms deelgeneem. Bea het ’n silwermedalje in die Volwasse Vroue Vrystyl Onbeperk (AFFU)‑kategorie verower, wat die kompeterende vlak van die plaaslike sport beklemtoon.

Die Windhoek Boogskietklub (WAC) bied maandeliks veldboogskietkompetisies aan en verwelkom deelnemers vanaf junior boogskutters tot ervare kompetisieskuts. Beginners skiet saam met meer gesoute skuts en namate hulle saam deur die baan beweeg, leer hulle, wat die sport toeganklik en nie‑intimiderend maak.

Vir boogjagters boots veldboogskiet werklike jagtoestande die beste na, veral ten opsigte van loop-en-bekruip tegnieke.

Ongelyke grond, wisselende hoeke en veranderende afstande weerspieël dieselfde uitdagings wat in die jagveld teëgekom word, wat die sport terselfdertyd prakties én lonend maak.

Die Windhoek Boogskietklub nooi voornemende boogskutters en belangstellendes om die Namibiese veldboogskietkampioenskap op 16 en 17 Mei by Yellowstone Trails, die klub se tuisbaan, by te woon. Oor die twee dae sal die kampioenskap met ‘n veldrondte en ‘n diere-rondte (op die Saterdag) en ‘n jagtersrondte die volgende dag beslis word.