Opwinding loop hoor vir eerste CIF Golf Classic

Gholf
Sportredaksie
Die Konstruksiebedryfsfederasie (CIF) het aangekondig dat voorbereidings vir die eerste CIF Golf Classic in volle gang is.

Die toernooi vind op Vrydag, 25 Julie 2025, by die Windhoek Gholfklub plaas en beloof om een van die land se voorste sake- en netwerkgeleenthede te wees.

Met 44 borge en 18 bevestigde spanne van vier spelers elk, geniet die toernooi wye ondersteuning uit Namibië se sakegemeenskap.

Aangebied deur die CIF in samewerking met die plaaslike konstruksiesektor, is hierdie toernooi meer as net ’n sportbyeenkoms; dit bring verskeie sektore byeen en beklemtoon die belangrike rol wat die konstruksiebedryf in nasionale ontwikkeling speel.

Alhoewel die toernooi sy oorsprong in die konstruksiebedryf het, is deelname en ondersteuning vanuit alle sektore welkom.

“Ons is opgewonde om te sien hoe Namibië se sakegemeenskap byeenkom vir hierdie eerste toernooi van sy soort,” sê Bärbel Kirchner, uitvoerende hoof van die CIF. “Die geleentheid gaan nie net oor sport nie; dit dien ook as ’n platform om vennootskappe te vorm en belangrike hulpbronne te genereer wat ons toelaat om namens die konstruksiebedryf op te tree en Namibië se ekonomiese groei te bevorder.”

Die toernooi geniet goeie korporatiewe ondersteuning, met Hardrock Earthworks as hoofborg. Ander borge sluit in City Concrete, Ohorongo Cement, Nexus Mining & Construction, en Momentum Korttermynversekering.

“By Hardrock Earthworks glo ons dat goeie verhoudings die fondament is van ’n florerende besigheidsgemeenskap,” sê Johan van Wyk, Hardrock Earthworks se besturende direkteur. “Daarom is ons trots om die eerste CIF Golf Classic te ondersteun – ’n geleentheid wat sektore byeenbring, blywende vennootskappe bou, en ’n bedryf ondersteun wat noodsaaklik is vir Namibië se ekonomiese vooruitgang.”

Die toernooi volg ’n vierbal-alliansie scramble-formaat met ’n shotgun-afslaan. Die maksimum toelaatbare voorgee is 24 vir mans en 30 vir vroue, met 75% van die voorgee wat toegepas sal word. Daar is uitstekende pryse op die spel en heerlike kos deur die loop van die dag op die spyskaart.

Die CIF Golf Classic ondersteun die federasie se doel om bewustheid te skep oor die konstruksiebedryf se belangrike rol en om sy vermoë uit te brei om lede beter by te staan.

As ’n Artikel 21-maatskappy wat hoofsaaklik deur ledegeld gefinansier word, is die CIF afhanklik van die betrokkenheid en vrygewigheid van Namibië se sakegemeenskap om sy impak te vergroot.