Proteas en Chevrons beloof warm stryde teen Eagles
Die Chevrons van Zimbabwe en die Proteas van Suid-Afrika se toerspanne het beide Dinsdag in Windhoek aangekom vir die FNB driehoekige T20-krieketreeks wat Vrydag begin.
Kaartjieverkope vorder reeds flink vir die openingswedstryd tussen Namibië se FNB Eagles en die Proteas wat môre om 14:00 by die FNB Namibië Krieketstadion in Olympia begin.
Die eerste herontmoeting word met ywer afgewag nadat Gerhard Erasmus se Namibiese span verlede jaar die geskiedkundige eerste T20-ontmoeting tussen die twee buurlande dramaties met die laaste bal beklink het.
Bjorn Fortuin, draaibouler van die DP World Lions, is die kaptein van die Suid-Afrikaanse toergroep. Hy is een van die oorblywende lede van die Proteas-groep wat verlede jaar in Windhoek was, en was onoorwonne met 19 van 21 balle toe Zane Green vir die Eagles die wenlopies met ‘n grenshou geslaan het.
Jason Smith, veelsydige speler van die Hollywoodbets Dolphins, het in verlede jaar se nederlaag in Windhoek die meeste lopies vir die Proteas aangeteken (31 van 30 balle) en was weer gekies, maar moes vanweë ‘n spierbesering in sy regterbobeen onttrek. Teen gister was geen plaasvervanger nog bevestig nie.
Duan Jansen, veelsydige speler van die Momentum Multiply Titans, is vir die eerste vir die T20-Proteas opgedoen nadat hy op die provinsiale toneel uitgeblink het.
Nog ‘n terugkerende speler is die 29-jarige linkshandige topkolwer Rubin Hermann – wat dié keer saam met sy jonger broer Jordan (24) ingesluit is.
Rubin Hermann was uitstaande in verlede jaar se SA20 met 333 lopies (gemiddeld 41,63) vir die Paarl Royals, die vyfde meeste in die reeks. Maar in die afgelope 12 maande het hy ook in die langer formate sterker na vore getree, insluitend met ’n onoorwonne 158 van 93 balle in ’n eendagwedstryd teen Nieu-Seeland A in Augustus laas jaar in Benoni.
Zimbabwe het in Juliemaand ‘n reeks van drie T20i’s in Indië gespeel, terwyl die Namibiese span onder afrigterskap van Craig Williams gedurende Julie saam met Nepal in ‘n driehoekige eendagreeks in Nederland betrokke was.
Die drie spelersgroepe:
NAMIBIë
Gerhard Erasmus (kaptein), Jan Frylinck, Louren Steenkamp, Malan Kruger, Michael van Lingen, Nicol Loftie-Eaton, JJ Smit, Zane Green (paaltjiewagter), Ruben Trumpelmann, Alex Volschenk, Junior Taanyanda, Bernard Scholtz, Jack Brassell, Max Heingo, JC Balt, Waldo Smith.
SUID-AFRIKA
Bjorn Fortuin (kapein), Eathan Bosch, Dewald Brevis, Tony de Zorzi, Connor Esterhuizen, Jordan Hermann, Rubin Hermann, Duan Jansen, Kwena Maphaka, Nqobani Mokoena, Nqaba Peter, Lhuan-dré Pretorius, Lutho Sipamla, Prenelan Subrayen.
ZIMBABWE
Sikandar Raza (kaptein), Brian Bennett, Ryan Burl, Graeme Cremer, Ben Curran, Brad Evans, Innocent Kaia, Wessly Madhevere, Tadiwanashe Marumani, Wellington Masakadza, Kundai Matigimu, Blessing Muzarabani, Dion Myers, Newman Nyamhuri, Tafadzwa Tsiga.
KAARTJIES
Aksiebelaaide internasionale T20-krieket is in die vooruitsig met ‘n atmosfeer wat sportentoesiaste nie sal wil misloop nie.
Toegang op die graswalle beloop N$100 vir volwassenes, N$50 vir kinders (drie tot 12 jaar), gratis vir kinders jonger as drie jaar en N$200 vir die uitsoekkaartjies.
Kry jou kaartjies direk op WhatsApp: https://q.my.na/M8HI
Of besoek Krieket Namibië se webblad: https://q.my.na/275A
KOMENDE NAWEEK
Vrydag 28 Augustus – FNB Eagles tn Proteas (14:00).
Saterdag 29 Augustus – Proteas tn Zimbabwe (14:00).
Maandag 31 Augustus – FNB Eagles tn Zimbabwe (14:00).



Comments
My Zone
No comments have been left on this article