Regering wys steun vir African Stars

Sokker
Andrew Poolman

African Stars-sokkerklub het gister sy waardering teenoor die ministerie van onderwys, innovering, jeug, sport, kuns en kultuur uitgespreek vir die skenking van N$250 000 vir die span se voorbereiding op sy aanslag op die CAF Kampioeneliga.

“Ons is dankbaar vir die ministerie se verbintenis tot African Stars en die volgehou ontwikkeling van Namibiese sokker. U ondersteuning is ‘n belegging in ons reis, terwyl ons Namibië met trots op die kontinentale verhoog verteenwoordig. Dankie dat u in die Stars glo,” het die klub in ‘n verklaring gesê.

African Stars, die heersende Namibiese kampioenklub, sal op 17 en 24 Oktober in die CAF Kampioeneliga se tweede uitdunrondte teen die Suid-Afrikaanse titelhouer Orlando Pirates te staan kom.

Dit volg nadat die Namibiërs reeds oor die eerste hekkie gevorder het deur Gaboen se AS Mangasport uit te skakel (drie doele elk ná twee wedstryde, maar op grond van een meer doel in die wegwedstryd).

Vanweë die feit dat geen sokkerstadion in Namibië aan CAF se neergelegde standaarde vir die aanbieding van groot wedstryde voldoen nie, sal African Stars se tuiswedsstryd op die eerste datum in die Botswana Nasionale Stadion in Gaborone aangeied word, voor hul besoek aan die Orlando Amstel Arena in Soweto vir die herontmoeting.