Silver kies herstel bo Olimpiese deelname

Atletiek: Die veldatleet het haar redes gegee waarom sy aan die Namibiese span onttrek het.
Phillipus Josef
Ondanks die veldatleet Tuane Silver (20) se talle prestasies in Amerika, sal sy nie deel wees van die Namibiese Olimpiese span wat vanjaar aan die Olimpiese Spele in Parys, Frankryk, gaan deelneem nie.

"Ek is nie deel van die span wat oor die volgende paar weke na Frankryk gaan reis nie. Ek was aanvanklik ingesluit in die span, maar aangesien ek al sedert Desember aan kompetisies deelneem (weens die binneshuise seisoen en die afgelope buitenshuise seisoen), was die las op my liggaam oor die afgelope paar maande baie erg,” het Silver aan My Zone verduidelik.

Die gewigstoter het sedert Desember al aan twaalf byeenkomste in die VSA deelgeneem in haar poging om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer.

“Daarom het ek besluit om myself van die span te onttrek om myself genoeg tyd te gee om te rus en te herstel voordat ek moet begin voorberei vir die komende seisoen."

Die oudskolier van Windhoek Gimnasium het die Namibiese senior gewigstootrekord twee jaar gelede agter haar naam neergepen.

Sy het in Augustus 2022 by die o.20-wêreldkampioenskap in Cali, Colombië, die maatband tot 15.95 meter laat rek nadat sy ses maande tevore die nasionale rekord op 15.24 vir die eerste keer agter haar by Charlene Engelbrecht (13.82 in 2011) oorgeneem het.

Verlede jaar was Silver nie so warm op stryk as die vorige seisoen nie.

Die eerstejaartjie en beursstudent by die Universiteit Oklahoma het egter haar 2024-seisoen soos ’n orkaan getref.

Op 12 April het sy met ’n goeie 16.10 aan die gang gekom en dit met 16.25 (19 April), 16.56 (27 April), 17.11 (23 Mei in Fayetteville, Arkansas) en 16.77 (6 Junie) opgevolg.



Silver het dus reeds vanjaar haar eie Namibiese senior gewigstootrekord van 15.95 by vier kompetisies oortref.





Verder is Silver laas Donderdag met die Tweede Span All-American eer bekroon nadat sy ’n afstand van 16.77 meter gegooi het in die gewigstoot en ’n prysenswaardige 14de plek by die NCAA Nasionale Kampioenskappe behaal het.

Terugskouend op hierdie mylpaal het Silver haar trots en opwinding uitgespreek: "Dit was ’n wonderlike ervaring om by die Divisie I NCAA Nasionale Kampioenskappe te kompeteer.

Ek dink dit is elke jong persoon in baan en veld se droom om eendag daar te kompeteer. Om as ’n eerstejaar Tweede Span All-American status te behaal, is ’n groot eer.”