Skokgolf in semifinale gee Afrika-spanne WB-hoop

Rugby
Die Afrika-toernooi in Uganda het 'n luide wekroep vir Namibiese rugby geword.
Andrew Poolman
Vir rugbyliefhebbers wat dan en wan ‘n vinger op die pols hou, sou gister se Katastrofe in Kampala nie heeltemal uit die bloute gekom het nie.

Die Zimbabwiese Sables het in die semifinaal van die Rugby Afrika-bekertoernooi in Uganda se hoofstad ‘n welverdiende oorwinning met 32-10 teen Namibië opgestapel, nadat hulle rustyd ‘n voorsprong met 14-3 gehou het.

Vir lang jare sedert hul laaste oorwinning in ‘n toets teen Namibië (in 2001 in Harare, met 27-26) en vele mislukte veldtogte om die Welwitschias van Wêreldbeker-kwalifisering te weerhou, is Zimbabwe se werk agter die skerms uiteindelik gister op skouspelagtige wyse beloon.

Die buurland het in die afgelope jare sedert die Covid-pandemie straks meer sukses as Namibië in die Rugby Afrika o.20 Barthes-toernooi behaal. Onder hul nuwe nasionale afrigter Piet Benade het die Sables hierdie opwindende talent met vrug in hul nasionale opset begin inspan.

Allister Coetzee, die Namibiese afrigter en direkteur van rugby, het vanjaar in sy spankeuse ewe veel klem gelê om die jonger geslag bloot te stel – hoewel die o.20-span van 2024 ook nie die Afrika-finaal kon haal nie.

Dit kan aangevoer word dat hy dalk te veel van die jonges in sy toergroep na Uganda saamgeneem het, ten koste van meer geharde klubspelers (sommige met toetservaring) soos Johan Luttig van Grootfontein.

Ewenwel, die tyd sal leer of sy belegging in die jeugdige spelers vrugte afwerp.

Vir vanjaar se Afrika-stryd het Namibië nie op die knoppie van die meeste van sy mees ervare oorsese beroepspelers gedruk nie – ‘n prentjie wat in 2025 anders kan en behoort te lyk.

Gister se uitslag beteken dat die Welwitschias komende Sondag in die bronsfinaal teen Kenia opgeweeg word, in hul eerste ontmoeting in toetsrugby sedert Johan Deysel se manne die Keniane in die 2022-eindstryd in Frankryk met 36-0 oordonder het.

Rugby Afrika se bekertoernooi volgende jaar sal weer in Kampala aangebied word en sal as die vasteland se kwalifisering vir die 2027 Wêreldbeker in Australië dien, wat boonop van 20 tot 24 lande uitgebrei is.

Die nuutgevonde selfvertroue van die twee finaliste vir 2024, Algerië en Zimbabwe, kan hulle dan ‘n hand vol maak om te hanteer.

Veral die bekende spoed, flair en vaardigheid waarvoor die Sables-agterlyn oor jare bekend geword het, is gister in Kampala behoorlik uitgestal – hierdie keer boonop met ‘n generaal in die losskakeltrui, naamlik Ian Prior (33) wat tevore ‘n professionele loopbaan in Australië by die Brumbies en Western Force gehad het.



Teenspoed keer momentum

Gister was die jong Armand Combrinck as ‘n laat plaasvervanger in die 6-trui in die beginspan nadat Peter Diergaardt deur griep uitgeskakel is. Combrinck het ‘n hardwerkende vertoning gelewer.

‘n Vroeë strafdoel deur losskakel Danco Burger het die Namibiërs binne drie minute met 3-0 laat voorloop, maar Zimbabwe het hard teruggeslaan met twee indrukwekkende drieë voor rustyd.

Die dwarsskop waarmee Ian Prior ná 17 minute sy bykans onbewaakte regtervleuel se drie geskep het, het gewys hoedat hy die spel kan dikteer.

‘n Geelkaart vir die stut Jason Benade onmiddellik ná die afskop vir die tweede helfte, toe hy ‘n opponent met ‘n krokodilrol verwyder het, het Namibië verder verhinder om enige momentum te kon opbou.

Nog drie drieë in die tweede helfte het die telling algaande buite die Namibiese bereik gedruk, voordat die reserwe-losskakel Denzo Bruwer uiteindelik in die 77ste minuut ‘n breekslag gelewer het om agter die pale te gaan druk en self oor te skop. Dit was uiteraard heeltemal en te min en te laat.

Zimbabwe se heelagter Tapiwa Mafura het 'n puik drie uit sy eie helfte geskep en is as speler van die wedstryd bekroon.