Spanne uit RSA speel saam in Swakopmund

Jukskei
Andrew Poolman
Die Namibië Ope Jukskeikampioenskap vind vanaf vandag (Maandag 30 Junie) tot Donderdag 3 Julie in Swakopmund plaas.

Die toernooi word in twee afdelings aangebied (A- en B-afdeling), met altesame 160 spelers betrokke.

In die A-afdeling is drie Namibiese spanne ingeskryf, terwyl ses spanne in die B-afdeling meeding.

Suid-Afrika neem ook deel met elf spanne in die A-afdeling en drie in die B-afdeling. Verder sal die SA Meesters (beide mans en vroue), ook teenwoordig wees met twee spanne in die A-afdeling.

Nog meer besoekende spanne van Suid Afrika sal deel van die uitsoekgeleentheid wees. Napso (die Namibiese Privaatskole-organisasie) se seuns- en meisiespan is in die B-afdeling ingeskryf.



Toetse

Op Donderdag 3 Julie, ná afloop van die Namibiese kampioenskap, sal die Namibiese en Suid-Afrikaanse toetspanne aangekondig word. Die internasionale toetswedstryde vind dan op Vrydag plaas, met die eerste toetswedstryde vanaf 09:00.

Daar sal in verskeie afdelings meegeding word – senior en junior mans en vroue; veterane ouer as 50 en 60 (mans en vroue), asook onder-19 en o.16 seuns en meisies.

Namibië Jukskei nooi die publiek uit om die spoggeleentheid by te woon en die spelers gedurende die week te ondersteun.

Al die wedstryde sal plaasvind by Jukskeipark op die hoek van Strand- en Scultelusstraat. Vrydagoggend sal die opstapseremonie om 08:00 begin.

Vir enige belangstelling in jukskei kan Erik Strauss by 081 122 2743 gekontak word.