Sternagel teleurgesteld in MXoAN-weglating
Die gasheerspan Namibië se span wat binnekort aan die 2026 FIM Africa Motocross of African Nations (MXoAN) deelneem, sal sonder een van sy mees hoëprofiel en vaardige ryers moet klaarkom.
Die 30-jarige Mark Sternagel is konsekwent die onbetwiste toonaangewende ryer in Namibië se opeklas (MX1) en heersende nasionale kampioen van 2025, maar hoewel hy aanvanklik ‘n lid van die nasionale span sou wees, het sake intussen ‘n wending geneem.
Nagenoeg tien Afrika-lande se spanne word verwag by die kontinentale skouspel wat op die naweek van 28-30 Augustus by die Gallina-renbaan aan die noordelike buitewyke van Windhoek sal plaasvind.
Op tuisbodem was Sternagel spesiaal gemotiveerd ná sy vierde posisie by die 2023 MXoAN in Kaapstad. In 2025 in Zimbabwe was hy ook die voorloper in die MX1-resies voordat hy in ‘n ongeluk uitgeskakel is.
Sternagel het eergister in ‘n verklaring op sosiale media gesê: “My oorspronklike besluit om aan die Namibiese span te onttrek, is tydens ’n uiters moeilike tydperk geneem. Ek het te kampe gehad met onverwagte en duur probleme met my renmotorfiets, tesame met onsekerheid oor die finansiële en borgskapverpligtinge wat vir MXoAN nodig sou wees.
“Alles het gelyktydig gebeur, en ek het die moeilike besluit geneem om om persoonlike redes te onttrek. In daardie stadium het ek nie gevoel dat ek my ten volle kon verbind op die manier wat dit verdien om my land te verteenwoordig nie, en ek wou nie Namibië óf die span teleurstel nie.
“Daardie besluit was myne, en ek aanvaar volle verantwoordelikheid daarvoor.
“Kort daarna het omstandighede verander. Ondersteuning het na vore gekom, oplossings is gevind, en ek het duidelik laat weet dat ek wou deelneem en my land wou verteenwoordig.
“Verskeie gesprekke het gevolg in ’n poging om ’n weg vorentoe rakende my moontlike herinstelling te vind. Voorwaardes is gestel; ek het die voorwaardes aanvaar en my verbintenis tot Namibië se span bevestig.
“Ten spyte van my pogings en my bereidwilligheid om te doen wat vereis word, sal ek nie die geleentheid kry om Namibië by die 2026 MXoAN te verteenwoordig nie.
“Uiteindelik is die MXoAN ’n spanbyeenkoms waar elke punt vir jou land tel. As ek kyk na die vlak waarop ek tans ry en wat ek tot Namibië se span sou kon bydra, is dit selfs moeiliker om te verstaan waarom ek op ons tuisbodem vanaf die kantlyn sal moet toekyk.
“Al wat ek wou hê, was die geleentheid om agter daardie wegspringhek te staan met die Namibiese vlag op my bors en om alles te gee vir my land. Ongelukkig sal daardie geleentheid nie vir my beskore wees nie.
“Aan almal wat my deur hierdie proses ondersteun het: dankie. En aan elke renjaer wat vir die Namibiese span deelneem: ek wens julle opreg alles van die beste toe. Hierdie boodskap is nie op enige van julle gemik nie. Gaan voluit, gee alles, en verteenwoordig ons land met trots.”
Op sosiale media het vele MX-ondersteuners hul teleurstelling uitgespreek dat hulle nie vir Sternagel in aksie sal kan sien nie, en het vrae aan die NMSF gerig of daar geen beter manier was om die saak te hanteer nie.
• Die NMSF het by monde van sy sekretaris-generaal, Derek Jacobs, in reaksie gesê: Die kwessie rakende mnr. Mark Sternagel se deelname aan die 2026 FIM Africa Motocross of African Nations, wat nou op sosiale media verskyn het, is deur die NMSF hanteer deur middel van vertroulike kommunikasie met mnr. Sternagel se regsverteenwoordigers.
“Ná afloop van daardie proses het mnr. Sternagel die NMSF se besluit aanvaar, en die NMSF beskou die saak gevolglik as afgehandel en gesluit.
“Die NMSF sal dus nie betrokke raak by, reageer op, of deelneem aan enige debat of petisie oor hierdie saak op sosiale media of soortgelyke platforms nie. Die NMSF respekteer individue se reg om hul sienings uit te spreek, maar beskou dit nie as gepas óf konstruktief om ’n afgehandelde, vertroulike saak in die openbare domein te heropen nie.
“Die omstandighede wat tot die saak aanleiding gegee het, was ongelukkig en, na die NMSF se mening, vermybaar. Dis nietemin deur mnr. Sternagel se regsverteenwoordigers hanteer en tot ’n afsluiting gebring.
“Die NMSF beskou die saak dus as afgesluit.”
– andrew@nsh.com.na



Comments
My Zone
No comments have been left on this article