Swemmers grom vroeg vir die rekordboeke
Swem
Hoewel geen nasionale ouderdomsrekords oortref is nie, het verskeie swemmers die naweek naby aan hierdie merke gedraai tydens die Namibiese Watersportfederasie (Nasfed) en Bank Windhoek se eerste langbad-gala vir die seisoen.Die gala is gelyktydig by die Windhoekse munisipale swembad in Olympia, by die Sand Sharks swembad op Oranjemund en by die Water Cube op Swakopmund aangebied.
In Windhoek was Roze van Wyk van Marlins-swemklub een van die uitblinkers met 'n merkwaardige agt goue medaljes in die meisies 11-12 jaar kategorie en twee vertonings naby twee aan nasionale ouderdomsgroeprekords.
Van Wyk het die 50 m borsslag in 39.10 sekondes gewen, wat naby Gwen Currie se ouderdomsgroeprekord van 37.60 was; terwyl sy die 200 m vlinderslag in 2:47.35 gewen het, wat net meer as twee sekondes agter Heleni Stergiadis se rekord van 2:45.26 tien jaar gelede was.
In die meisies 15-16 jaar kategorie het Vitoria de Sousa (Dolphins-swemklub) ses goue medaljes gewen en was naby aan twee nasionale rekords.
De Sousa het die 50 m vryslag in 28.63 sekondes gewen, wat naby Christine Briedenhann se ouderdomsrekord van 27.25 was wat in 2012 opgestel is. Sy het ook die 100 m vryslag in 1:00.62 gewen – binne raakafstand van Christine Briedenhann se ouderdomsrekord van 58.53 wat in 2012 opgestel is.
In die meisies 17-18 jaar kategorie het Jessica Humphrey (Aqua) naby twee jarelange rekords gekom wat steeds deur die voormalige Namibiese Olimpiese swemmer Monica Dahl gehou word.
Humphrey het die 50 m vryslag in 27.94 sekondes gewen, wat binne een sekonde van Dahl se ouderdomsrekord van 26.95 was. Met haar oorwinning in die 100 m vryslag in 1:00.35 was sy ook nie te ver van Dahl se ouderdomsrekord van 58.47 nie.
Humphrey was ook binne een sekonde van Toni Roth se 200 m individuele wisselslagrekord van 2:26.88 wat in 2015 opgestel is, met haar wentyd van 2:27.59.
In die seuns 15-16 jaar kategorie het Nathan Bock (Aqua) vier goue medaljes gewen en twee keer naby nasionale ouderdomsrekords gedraai.
Bock het die 50 m borsslag in 31.07 sekondes gewen – in sy strewe na Jose Canjulo se rekord van 30.14 wat in 2021 opgestel is. Bock het ook die 50 m vryslag in 25.38 sekondes gewen, met sy visier op Luke Beukes se ouderdomsrekord van 23.78. In dieselfde kompetisie was Bock se klubmaat Rodney Feris ook in ‘n sterk tweede plek (25.42).
Bock en Feris het mekaar weereens in die 100 m vryslag hard gedruk, met Bock wat goud in 55.49 sekondes gewen het voor Feris (silwer in 55.93). Beide het nou Oliver Durand se ouderdomsgroeprekord van 53.03 sekondes in hul visier.
Ander goeie vertonings is gelewer deur Riley Bergh (Aqua) met ses goue medaljes in die seuns 13-14-kategorie; Dave Duque (Aqua) met ses goue medaljes in die meesters-manskategorie; Joelle Oudtshoorn (Dolphins; meisies 9-10 jaar) met vyf goue medaljes; Ainoa Naukosho (Dolphins; meisies 13-14 jaar) met vyf goue medaljes en Jose Canjulo (Dolphins) met vyf goue medaljes in die mans ope-kategorie.
• Uitslae van Oranjemund en Swakopmund was teen druktyd nie beskikbaar gestel nie.
Comments
My Zone
No comments have been left on this article