Swiegers tel Wines2Whales as sy beste prestasie

Fietsry
Andrew Poolman
Die Namibiese bergfietsryer Piet Swiegers kyk met diep tevredenheid terug op die 2025 Wines2Whales-reeks se driedaagse Sintilating Shiraz-toer, waarin hy en sy Duitse spanmaat Udo Bölts die wenners in hul ouderdomsklas (50-59 jaar) was.

Die drie dae se afstande was 61 km, 67 km en 63 km (totaal 191 km).

In sy fleur het Bölts as ‘n padfietsryer twaalf jare opeenvolgend die Tour de France gery en klaargemaak (1992-2003), meestal as ‘n “werker” vir twee uiteindelike kampioene in Bjarne Riis en Jan Ullrich, met ‘n beste eindposisie van negende vir Bölts.

Hy was ook drie keer Duitsland se kampioen in die padresies (1990, 1995 en 1999), ‘n skofwenner in die 1992 Giro d’Italia en vierde by die 1997 wêreldkampioenskap.

Ná sy professionele loopbaan het hy met ewe veel sukses na bergfietsry oorgeskakel, met verskeie uitstaande vertonings in sy ouderdomsklas in skofresiese soos die Cape Epic.

Swiegers vertel: “Ek het vir Udo in 2012 tydens ‘n sesdaagse skofresies in Chili ontmoet toe ek nog redelik groen in kompeterende fietsry was. Ek het hom van die begin af baie bewonder en gedroom om eendag op sy vlak te kan fietsry.

“Dertien jaar later is dit ‘n groot voorreg om saam met so ‘n wêreldklas ryer in ‘n skofresies mee te ding en te kon wen. Hy is ‘n wonderlike mens en altyd besorg oor die welstand van sy spanmaat.

“Die drie aspekte wat vir my bepalend in so ‘n resies is – die journey, die destination en die company – was alles fantasties; ‘n perfekte scenario. Wat die geselskap betref, het ons drie wonderlike dae gehad en ons het ook geslaag in ons doel om ons ouderdomsklas se algehele klassifikasie te wen.

“Op dag een is ek nie die ryer wat die haastigste aan die gang kom nie en die plat en vinnige aard van die eerste 12 kilometer vanaf Benguella Cove was dus nie noodwendig my kos nie.

“Ons het hier maar net gesorg dat ons die opposisie voor ons nie uit die oog verloor nie.

“Ons dominansie het wel na vore gekom toe ons die enkelspoorpaadjies ná sowat 30 persent van die roete bereik en teen die harde klimme uit hier by die halfpadmerk het ons die pap dik aangemaak en minute onder die res uitgery.

“Udo het met die krag van ‘n vragtrein geklim en ek het net op sy agterwiel gebly. Ons het die eerste skof met ‘n voorsprong van twee-en-‘n-half minute afgesluit, voor Franso Steyn en Hannes Kotze, die twee Suid-Afrikaners.

“Dag twee se skof was ‘n lekker speelplek, met ‘n roete wat deurentyd op en af gegaan het. Ons het vroeg weggebreek en is eers weer ingehaal toe ons dit oor die laaste 15 kilometer rustiger begin vat het.

“Ons het die laaste dag (63 km, met klimwerk van 1 250 m, van Oak Valley na Lourensford) met ‘n voorsprong van 2 minute 45 sekondes begin en het dus geweet ons kan maar net op die tweede span se rug sit indien hulle probeer wegkom.

“Hulle kon nie wegbreek nie, terwyl ons so halfpad deur die skof ná ‘n klimgedeelte vir hulle begin wegry het en die skof omtrent 2 minute voor hulle klaargemaak het.

“Van my kant is ek dankbaar teenoor ons borg Team Presidential Shirt in wie se kleure ons gery het. My Scott-fiets verskaf deur Cymot het soos ‘n droom gery, terwyl oom Paul Clüver van Paul Clüver Wine Estates ons verblyf geborg het.

“Vir my as ‘n amateurryer wat nou vir 13 jaar as ‘n stokperdjie fiets ry, is hierdie prestasie by die Wines2Whales ‘n toppunt in my loopbaan. Dit was my beste uitslag nóg – ons was 30ste op die algehele klassifikasie (8 ure 34 minute 54 sekondes).

“Om my droom van 13 jaar te kon verwesenlik en met ‘n ooglopend sterker ryer soos Udo te kon byhou en aan die wenkant teen gerekende opposisie te wees, getuig vir my dat ‘n mens nie skrikkerig hoef te wees om jou drome na te volg nie. Geen uitdaging is te onrealisties nie ... jy kan as jy wil.”



Nog Namibiërs

• Christo Swartz en Christiaan Janse van Rensburg (Team Cymot Vets) was algeheel 25ste geplaas. In die mans ope klas (19-39 jaar) was hulle ‘n respektabele agtste uit 172 spanne (8 ure 31 minute 15 sekondes).

• In dieselfde kategorie het die nasionale fietsry-afrigter Hans du Toit (53) en die 22-jarige Jaques Hanekom (Brains & Legs) die drie dae in die 25ste plek in hul kategorie afgesluit (9:18:51).

• André Vermeulen en Murray Koch (Hollard Life) was derde van die meestersmans (40-49 jaar) en 43ste in die algehele kompetisie (8:55:31).

• Suid-Afrika se gebore Namibiër Marc Pritzen en sy Switserse spanmaat Felix Stehli (Honeycomb 226ers) het Sondag ’n feitlik perfekte drie dae se rywerk in Somerset-Wes met die algehele manstitel afgesluit.

In ’n dramatiese groepbotsing in die pylvak van Saterdag se tweede skof het Stehli ook neergeslaan. Matthew Beers het hard geval, harsingskudding opgedoen en sy skouer beseer. Beers en sy spanmaat, Travis Stedman (Toyota Specialized), het hulle gevolglik aan die byeenkoms onttrek.