Tankwa nog ‘n mylpaal vir Swiegers

Bergfietsry
Andrew Poolman
Namibië se ietwat kleiner as gewoonlike verteenwoordiging by laas naweek se vierdaagse Momentum Tankwa Trek bergfietstoer in die Wes-Kaap het min afbreuk gedoen aan die sterk vertoning van Namibiese spanlede.

Alex Miller, ‘n lid van 2024 se wenspan saam met die Suid-Afrikaner Matt Beers, was nie ingeskryf nie, maar het eerder in sy doelwit geslaag om in Windhoek die Nedbank Namibiese nasionale padfietskampioenskap in beide die tydtoets en padresies te wen.

Die vier daaglikse skofte (proloog 30 km, 88 km, 98 km en 57 km) het die totale afstand op 273 km te staan gebring. Die gesamentlike vertikale klimmeters (4 460) is veral deur dag drie se Merino Monster-skof (2 200 m klim) oorheers.

In die elite vroueresies kon Vera Looser nie haar tweede eindposisie van verlede jaar herhaal nie en het saam met haar nuwe Suid-Afrikaanse spanmaat Sarah Hill in die algehele vierde posisie klaargemaak. Hul beste vertoning was in die tweede skof, met ‘n tweede plek.

Die laaste dag het sy kwota drama in die elite mansresies gelewer toe die Honeycomb 226ers hul podiumposisie vaarwel moes toeroep, nadat Wessel Botha ná 15 km van die skof van 57 km geval het. Botha en die Namibies-gebore Marc Pritzen was tot in daardie stadium die voorlopers Imbuko ChemChamp se naaste mededingers. Botha is vir harsingskudding behandel, maar eers moes Pritzen hom oortuig om in die ambulans te klim nadat hy aangedring het om die skof te voltooi.



Namibiese meester

Piet Swiegers, van Aus in die suide van Namibië, het die meesters mansresies saam met sy Suid-Afrikaanse spanmaat Robert Sim oorheers.

Die twee het reeds laas jaar met seges in die Cape Pioneer en die Wines2Whales gewys watter sterk kompetisie hulle vir die ouer manne in meerdaagse bergfietstoere bied.

Swiegers vertel: “In die kleure van die span Presidential het one dag een se proloog met vier minute gewen. Tydens die tweede skof het ons sowat 15 minute verloor toe ek papwiele gekry het, met die gevolg dat ons in daardie stadium met omtrent ses minute agter Franso Steyn (derde in die 2024 Munga) en Hannes Kotze.

“Op die derde dag se Merino Monster het ons nogal diep gegrawe en tien minute onder hulle uit gery. Hoewel papwiele op die laaste dag ons weer tyd gekos het, het ons die toer met agt minute voor hulle afgesluit.”



Cape Epic is volgende

Volgens Swiegers het Presidential Shirt twee sterk spanne ingeskryf vir vanjaar se Cape Epic, wat van 16 tot 23 Maart voorlê.

“Robert Sim sal saam met Udo Boelts van Duitsland ry, wat verskeie skofte in die Tour de France gewen het en saam met Robert drie ouderdomstitels by die Cape Epic gewen het. Hul ander span is ek en Mauro Bettin, ‘n Italianer wat in sy professionele fietsryloopbaan twee keer die Tour de France en drie keer die Giro d’Italia gery het. Mauro was ook in 2001 die wêreldkampioen in marathon-bergfietsry.

“Ons twee spanne se sterkste opposisie kan kom van Bart Brentjens (Nederland), die eerste Olimpiese bergfietskampioen van 1996, en Abraão Azevedo, sy spanmaat van Brasilië. Die twee het saam reeds ses ouderdomstitels by die Cape Epic gewen. Maar ons oefen hard en is positief om vir plekke op die podium mee te ding.”

• Van die Tankwa Trek se voorste uitslae:



UCI Elite vroue, algemene klassifikasie ná vierde skof:

1 She Sends: Candice Lill (RSA) & Kate Courtney (VSA) – 12:43:17.

2 Spaghetti M&G: Greta Seiwald & Martina Berta (beide Italië) – 13:23:55 / 40:37.

3 Ghost-LIV Racing: Tyler Jacobs (RSA) & Sara Cortinovis (Italië) – 13:33:15 / 49:58.

4 Efficient Infiniti: Sarah Hill (RSA) & Vera Looser (Namibië) – 13:51:45 / 1:08:28.

5 Kolisi/Songo Foundation: Ila Stow & Cherise Willeit (beide RSA) – 14:23:25 / 1:41:08.



UCI Elite mans, algemene klassifikasie ná vierde skof:

1 Imbuko ChemChamp A: Marco Joubert & Tristan Nortje (beide RSA) – 10:40:04.

2 Singer KTM Racing: Martin Frey & Simon Stiebjahn (10:50:40 / 10:36.

3 Computer Mania Cannondale: Daniel van der Walt (RSA) & Ursin Spescha (Switserland) – 10:59:12 / 19:08.

4 Insect Science Cycling: Keagan Bontekoning & Arno du Toit (beide RSA) – 11:03:24 / 23:20)

5 Toyota Specialized: Matt Beers & Johan van Zyl (beide RSA) – 11:10:16 / 30:12.

14 Honeycomb 226ers B: Julian Jessop (RSA) & Theuns van der Westhuizen (Namibië) – 12:25:58 / 1:45:54.



Meestersmans (50-plus)

1 Presidential Shirt: Piet Swiegers (Namibië) & Robert Sim (RSA) – 13:26:26.



Grootmeestersmans (60-plus)

1 Cutter and The Gun: Frank Snyman (Namibië) & Jimmy Mills (RSA) – 16:10:50.