Thompson wys Kudus se kaarte teen Rehoboth
Klubrugby
FNB Kudus, voorloper in die Namibië Rugby-unie (NRU) ná die eerste rondte wedstryde, het gister sy eerste en tweede spanne aangekondig vir komende Saterdag se tuiswedstryde op Walvisbaai teen die besoekende FNB Rehoboth, wat ‘n loslootjie op die eerste naweek gehad het.Roger Thompson, Kudus se direkteur van rugby, het gister tydens die bekendmaking gesê die Rooi Bulle is bekend as ‘n span wat vir 80 minute nie ontspan nie en inderdaad hoe later hoe kwater spoed optel.
“Rehoboth is veral gevaarlik as die spel nie gestruktureerd bly nie en hulle die bal vinnig heen en weer kan beweeg. Ons het kombinasies gekies en voorberei om hulle intensiteit vir die volle duur van die wedstryd te ewenaar.
As ‘n voorbeeld van Thompson se filosofie om geleenthede vir verdienstelike jong spelers te gee, is die skakelpaar Rayshawn Shoombe en Michael Koopman in die eerste span, terwyl Rayton Paulse die tweede span se kaptein is en losskakel Kyle Wentzel ook heelwat vorige ervaring in die premierliga het.
PJ Walters skuif van ‘n eksperimentele verskyning op agtsteman in die oorwinning met 55-7 teen FNB Dolphin terug na sy gebruiklike 12-trui, langs Alastair Miller.
Die ervaring van die drietal agterspelers Justin Newman, Aurelio Plato en Lloyd Jacobs op die reserwebank spreek ook van Kudus se benadering.
Wilfred Muller, Kudus se sekretaris, sê die voorbereiding het vlot verloop ondanks die veranderde planne toe die NRU laas naweek se wedstryde uitgestel het op grond van die voorspellings van swaar reënweer.
“Onder ons nuwe direkteur van rugby begin die spelers al hoe beter kombineer. Agt spelers van 2024 se tweede span wat die NRU reserweliga gewen het, is nou in die eerste span. Ons het belowende jong spelers wat ‘n goeie mengsel met die ervare groep vorm. Ons is bly oor die huidige diepte.”
Muller sê sommige ondersteuners verwys na verlede jaar se laaste ligawedstryd tussen die twee spanne op Rehoboth, waar humeure teen die einde hand uitgeruk het.
“Ons stel dit duidelik daai is water onder die brug; ons het aanbeweeg en verwelkom Rehoboth se span by die Jan Wilken-stadion op Walvisbaai.”
Kudus se twee spanne (teen FNB Rehoboth)
Eerste span (1-15): Anthony Hoebe, Roberto Lensley, Craig Swartz, Enzio Kotzee, Joshua Jacobs, Franco Vries, Gregory Nanaseb, Cameron Langenhoven (kaptein); Rayshawn Shoombe, Michael Koopman; Lucio Isaacs, PJ Walters, Alastair Miller, Irongwa Athivudhi, Aston Mukwiilongo. Reserwes: Jaden Jeffery, Jarren Koning, Lorenco Calaca, Tertius Arangies, Kenneth Seibeb, Justin Newman, Aurelio Plato, Lloyd Jacobs.
Tweede span (1-15): Mbiri Mbai, Bjorn Block, Clifford Cowley, Clayton Camm, Francois Visagie, Diandre Plaatjie, Jarreth Koning, Ja-Tamson van der Berg; Rayton Paulse (kaptein), Kyle Wentzel, Algirnon Kolz, Nando Dentlinger, Natan Isaacs, Lezardo Williams, Carlton Stevens. Reserwes: Zaiden Campbell, Nguvitjita Katjariua, Zwandre Viviers, Ernesto Hein, Darren Beukes, Percy Nash, Brandon Seister, Kenan Walters.
– andrew@nsh.com.na
Comments
My Zone
No comments have been left on this article