Troosprys vir toerspan van Assam

Krieket
In afrigter Craig Williams se eerste reeks aan die stuur het sy FNB Eagles-span stewige standaarde gehandhaaf.
Andrew Poolman
‘n Vasberade kolfpoging deur die Indiese toerspan van Assam-krieketvereniging om die hoogste kolftotaal van die reeks op te stapel, het hulle Sondag ‘n oorwinning met 65 lopies teen die FNB Eagles van Namibië besorg.

Die Namibiërs het nietemin die reeks met drie oorwinnings teen twee beklink.

Nicol Loftie-Eaton het met die toekenning as speler van die reeks weggestap (162 lopies en agt paaltjies), asook die toekenning as die voorste bouler.

Stewige vyftigtalle deur hul kaptein Denish Das (73 van 77 balle; ses viere) en Sumit Ghadigaonkar (78 van 75 balle; 7x4 2x6) het Assam reeds op 154/4 (33.4 bb) ‘n grondslag gegee.

In ‘n 111-lopievennootskap tot 265/5 (45.6 bb) het Ghadigaonkar en Saahil Jain (75 van 48 balle; 2x4 6x6) die kolftempo versnel. Die volgende kolwer, Akash Sengupta, het net 15 balle ontvang, maar met vyf reuse-sesse het hy op 39 nie uit nie geëindig.

Assam se kolftotaal van 325 vir sewe in 50 boulbeurte het die 301/5 oortref wat die Eagles twee dae tevore in ‘n oorwinning met 37 lopies behaal het.

Van die Namibiese boulers het Ruben Trumpelmann (2/66 in 9.5 bb) en Ben Shikongo (2/65 in 10) bykans identiese syfers gelewer.

Nicol Loftie-Eaton het 1/20 (3 bb) geneem deur vir Denish Das te boul, maar hy het ook vir Ghadigaonkar uitgehardloop en twee vangskote raakgevat (die gevaarlike Jain en aanvangskolwer Parvez Musaraf). Loftie-Eaton was die kaptein vir die dag, met Gerhard Erasmus wat ‘n ruskans gegun is.

Malan Kruger het ‘n puik honderdtal vir die Eagles aangeteken (109 van 104 balle), met vyf viere en vyf sesse, maar hy het as kolwer nommer vyf bykans ‘n alleenstryd gevoer met WP Myburgh (21 van 32 balle, 4x4), JP Kotzé (36 van 35 balle, 4x4 2x6), Loftie-Eaton (33 van 35 balle, 2x4 1x6), Zane Green (26 van 27 balle, 1x4 1x6) en Trumpelmann (18 van 17 balle, 3x4) wat hul paaltjies verloor het kort nadat hulle aan die gang gekom het.

Ná sy vuurwerke met die kolf was Akash Sengupta (3/64 in 9) ook een van die Indiërs se boulhelde, saam met Darshan Rajbangshi (3/38 in 7.3).



LEIERS in STATISTIEK

Die reeks se topses lopiemakers:

1 Rishav Das, 238 lopies in vyf wedstryde.

2 WP Myburgh, 238 lopies in vier wedstryde.

3 Malan Kruger, 182 lopies in drie wedstryde.

4 Saahil Jain, 171 lopies in vyf wedstryde.

5 Jan Frylinck, 167 lopies in vyf wedstryde.

6 Nicol Loftie-Eaton, 162 lopies in vyf wedstryde.

Die reeks se topses paaltjienemers:

1 Nicol Loftie-Eaton, 8 paaltjies in vyf wedstryde.

2 Ruben Trumpelmann, 7 paaltjies in vier wedstryde.

3 Ayushman Malakar, 7 paaltjies in vier wedstryde.

4 Mrinmoy Dutta, 6 paaltjies in vyf wedstryde.

5 Avinav Choudhury, 6 paaltjies in drie wedstryde.

6 Akash Sengupta, 6 paaltjies in vier wedstryde.