Trumpelmann kry driekuns vir voorloper United
Krieket
Trustco United se twee nasionale staatmakers Zane Green en Ruben Trumpelmann het betekenisvolle bydraes gelewer tot dié krieketklub se derde oorwinning in drie wedstryde in Krieket Namibië se T20 premierliga.United (169 vir twee) se goeie kolfwerk het die grondslag gelê vir ‘n oorwinning met 13 lopies teen ATG WHS Old Boys (156/9) by die Wanderers-veld Saterdagmiddag.
United is na dese die voorloper in die 2025-26 seisoen se T20 premierliga.
Van United se topkolwers het WP Myburgh (14 van 23 balle) sy paaltjie in die agtste boulbeurt verloor (United 53/1), maar Gerhard Janse van Rensburg (46 van 36 balle; 7x4 1x6) het ‘n goeie vennoot in nóg ‘n gewese nasionale o.19-speler, Erich von Molendorff, gevind. Laasgenoemde het 45 nie uit nie van 35 balle aangeteken (4x4 1x6), voordat Zane Green teen die einde kom vuur maak het met 48 nie uit nie van 26 balle (2x4 5x6).
In WHS Old Boys se boulaanval – van wie almal reeds nasionale spanne verteenwoordig het – het net die draaier Francois du Plessis (1/23 in 4) en naatbouler Zacheo van Vuuren (1/14 in 2) elk een paaltjie gekry. Die kaptein Shaun Fouché was verreweg die mees ekonomies (0/13 in 3), terwyl die United-kolwers daarop ingestel was om aanvallend teen Jack Brassell (0/31 in 4), Tangeni Lungameni (0/43 in 4) en veral Dylan Leicher (0/36 in 3) te speel.
In WHS Old Boys se kolfbeurt het die aanvangspaar Zacheo van Vuuren (25 van 22 balle; 4x4) en Louren Steenkamp (31 van 22 balle; 2x6) met ‘n vennootskap van 49 lopies weggespring.
Onmiddellik nadat Van Vuuren deur Trumpelmann geboul is, is die WHS-kaptein Shaun Fouché vir ‘n nulletjie uitgevang van die blitsboulwerk van Trumpelmann, wat uiteindelik met vyf paaltjies (5/25 in 4) geëindig het en as speler van die wedstryd aangewys is.
Die ervare Malan Kruger (56 van 33 balle; een vier, vyf sesse) het die Old Boys se lopiejaagtog op koers gehou, maar draaibouler WP Myburgh (2/26 in 3) het hom binne ‘n enkele boulbeurt van sy kolfmaats Dylan Leicher (11) en Francois du Plessis (8) ontneem.
Toe Trumpelmann weer vir ‘n boulskof terugkeer, het hy ‘n driekuns behaal deur vir Jack Brassell (5 van 8 balle) te laat uitvang, vir Christiaan Venter (0) skoon te boul en in sy volgende boulbeurt vir Tangeni Lungameni (2) te laat uitvang.
Die druk was op die later WHS-kolwers en hoewel Abner Siseso een ses van Junior Kariata se naatboulwerk geslaan het, was die vereiste 21 lopies in die laaste boulbeurt te veel gevra.
Wanderers wenloos gehou
Die T20 premierliga se titelhouer APS Wanderers het op die vorige naweek se openingsrondte reeds twee nederlae gely (teen United en WHS Old Boys).
In Saterdagoggend se wedstryd is CCD Tigers ingestuur om eerste te kolf en het 128/4 opgestel, maar Wanderers is vir 107 uitgeboul om opnuut met 21 lopies te verloor.
Die oranje span se topkolwers was die kaptein Nicol Loftie-Eaton met ‘n haastige vyftigtal (50 nie uit nie van 30 balle; 4x4 2x6) nadat die aanvangspaar Joshuan Julius (25 van 27 balle; 4x4) en Ramon Wilmot (38 van 57 balle; 3x4 1x6) met ‘n vennootskap van 52 lopies begin het.
Die akkurate draaiboulwerk van Bernard Scholtz (0/16 in 4 bb) is met respek hanteer, terwyl Jan-Izak de Villiers (2/23) vir beide Junior Taanyanda (6) en Nicholas van der Colff (0) met agtereenvolgende balle skoongeboul het.
JJ Smit (1/41 in 10) het vir Wilmot geboul, terwyl die draaier PD Blignaut (1/13 in 3) van sy eie boulwerk vir Julius uitgevang het.
Wanderers se kolfbeurt het spoedig in diep, diep moeilikheid beland en op 45/7 ná 10.4 boulbeurte was Tiaan van der Merwe, JC Balt, Karl Birkenstock, Lo-han Louwrens, JJ Smit, Jan-Izak de Villiers en Bernard Scholtz almal vir enkelsyfers terug in die kleedkamer.
Die tuisspan se kaptein Michau du Preez (27 van 31 balle, 3x4) het vergeefs probeer red, terwyl die druk ook reeds te veel op PD Blignaut (15 van 17 balle; 1x6) en Waldo Smith (19 van 14 balle; 1x6) gelaai was.
Ben Shikongo is as speler van die wedstryd aangewys vir puik naatboulwerk (3/12 in 4 bb) wat die einde van Balt, Birkenstock en Blignaut beteken het. Tangi Nuuyoma (3/ ) het met die paaltjies van Smit, De Villiers en Scholtz deurgebreek, terwyl Nicol Loftie-Eaton (1/21 in 4) en Max Heingo (1/21 in 3) elk een paaltjie geneem het. Zhivago Groenewald (2/26 in 3.4) het vir Louwrens geboul en vir Waldo Smith b.v.p. betrap.



Comments
My Zone
No comments have been left on this article