Uitslae in Bangkok wys waar vrouespan bestendig moet wees
Krieket
Die Namibiese vrouekrieketspan keer terug met net een oorwinning uit sewe wedstryde ná hul deelname aan die ICC T20-vrouetoernooi vir Ontluikende Nasies in Bangkok, Thailand.Vir afrigters Francois van der Merwe en Gerhard Lötter en vir die spelersgroep sou die afgelope twee weke ‘n sterk aanduiding gegee het van die vlak van bestendigheid wat vereis word in die Capricorn Eagles se droom om vroeg in volgende jaar hul eerste plek na ‘n ICC Wêreldbeker oop te speel.
Vandat die nasionale vrouegroep voltyds deur Krieket Namibië gekontrakteer word, het hul vlak van prestasie reeds met verskeie persentasiepunte verbeter. Die toernooi in Bangkok van spanne in die posisies tussen elfde en 19de op die wêreldranglys het nietemin uitgewys dat die Eagles-groep na verdere verbetering moet streef.
Uiteindelik was Uganda die enigste span teen wie Namibië ‘n oorwinning kon vier. Die wedstryd teen Papoea-Nieu-Guinee was Vrydag met die heel laaste bal in die weegskaal met die Eagles wat een lopie benodig het om sake gelykop te maak, maar hul voorste kolwer Yasmeen Khan is toe uitgehardloop.
Emirate aan wenkant
Die Verenigde Arabiese Emirate het gister met 153 vir drie in 20 boulbeurte die laaste wedstryd teen Namibië (125 vir sewe in 20) met 28 lopies gewen.
Die speler van die wedstryd was Esha Oza, kaptein en aanvangskolwer van die Emirate, met 68 lopies van 49 balle en 2/36 in 4 boulbeurte.
Vir die Eagles het Wilka Mwatile, op nommer ses, net hul tweede vyftigtal van die toernooi aangeteken, met ses grenshoue en 'n ses op pad na 54 nie uit nie van 34 balle.
In die toporde was kaptein Sunè Wittmann (23 van 33 balle) die egter enigste wat dubbelsyfers kon behaal, terwyl Naomi Benjamin op nommer nege onoorwonne (16* van 11 balle, 2x4) saam met Mwatile was.
Vroeër het die Emirate die loot gewen en gekies om eerste te kolf. Esha Oza se openingsvennootskap van 144 lopies met Theertha Satish (57 nie uit nie van 52 balle, 8x4) het die grondslag vir hul oorwinning gelê.
Michelle Botha, 31, gebore in Pretoria, het 1/19 in vier boulbeurte vir die Emirates geneem.
Die Eagles het in Oktober 2023, onder hul vorige kaptein Irené van Zyl, ‘n toer na die Emirate onderneem en het vyf uit die ses T20-wedstryde gewen.
PNG ontglip met laaste bal
Papoea-Nieu-Guinee (94 vir sewe in 20 boulbeurte) het Namibië (93/7) Vrydag met net een lopie geklop.
In die einlandspan se kolfbeurt het Wilka Mwatile net 1.75 per boulbeurt (0/7 in 4) afgestaan, terewyl Sunè Wittmann (2/10 in 2) en Leigh-Marie Visser (2/21 in 3) elkeen twee paaltjies geneem het.
Namibië is binne trefafstand gebring danksy Yasmeen Khan se bydrae van 30 van 36 balle (3x4), terwyl Wittman (17 van 25; 2x4) en Wilka Mwatile (24 van 18 balle; 3x4) ook die Eagles so byna oor die eindstreep help kry het.
Die Eagles was op 89/5 aan die einde van die 19de boulbeurt, met vyf lopies vir die oorwinning nodig, maar met die eerste bal is Wilka Mwatile uitgevang van die boulwerk van die speler van die wedstryd Pauke Siaka (3/15 in 4) wat haar derde paaltjie geneem het.
Yasmeen Khan en Naomi Benjamin het hierna enkellopies van die volgende vier balle aangeteken, voordat Khan dramaties van die laaste bal uitgehardloop is.
Khan se beste kolfbeurt van die toernooi was verlede week in die vergeefse lopiejaagtog teen Nederland (totaal 164/6), toe sy tot die aanval oorgegaan en 41 lopies van net 15 balle gemoker het (sewe viere en twee sesse).
• Vier van die spanne wat in Bangkok slaags was – Namibië, Skotland, Nederland en Thailand – sal in Januarie-Februarie 2026 onder die laaste tien kandidate wees wat in Nepal sal meeding om vier plekke vir kwalifiseerders na die ICC T20 Wêreldbeker-vrouetoernooie (12 Junie tot 5 Julie 2026 in Engeland en Wallis).



Comments
My Zone
No comments have been left on this article