Vars reëls vir skieters goedgekeur

Jaggeweerskiet
Tielman Van Lill
By die onlangse tweede spesiale algemene vergadering van Namibië Jaggeweerskietvereniging (NHRSA) het die liggaam verskeie veranderings aan sy reëls goedgekeur om die sport meer genotvol vir sy lede te maak.

Van die belangrikste besluite om voortaan mededingende skietsport te reguleer en die integriteit van die kode te beskerm, sluit in:

• Afstandsoekers: Word toegelaat vir alle klasse, maar teleskope met afstandsoekers is steeds verbode. Afstande sal tydens inligtingsessie verskaf word om die kompetisie glad te laat verloop.

• Ballistiese toepassings (toeps): Toegelaat vir gebruik deur skuts.

• Windmeting: Meganiese of elektroniese windmeters word nie toegelaat nie. Skuts mag wel natuurlike hulpmiddels soos sand, poeier of blare gebruik om die windsterkte te skat.

• Handskoene: Beperkings geld vir pols-ondersteunende handskoene, in ooreenstemming met huidige regulasies.

• Vergroting: Oop vir alle klasse, met die uitsondering van die .222/.223-afdeling.

• Posisieveranderings: Slegs toegelaat vir mediese redes, met Reël A.10 wat onveranderd bly.

• .22 Rimfire: Spesifieke regulasies ingestel vir .22 PCP/.22LR/.22PCP, met teikens beperk tot 'n maksimum afstand van 150 meter.

• .222/.223: Instemmers word toegelaat, terwyl snuitremme (muzzle brakers) steeds verbode is.

Die NHRSA sê: “Hierdie reëlveranderings het ten doel om 'n vars en opwindende dimensie na mededingende skiet te bring, terwyl dit 'n regverdige en genotvolle ervaring vir al die deelnemers verseker.”

Die volgende kompetisie van die NHRSA is van 19 tot 22 Julie naby die ou Heja Lodge oos van Windhoek. Deelnemers word genooi om via PractiScore vir die geleentheid te registreer. Vir meer inligting kan Karola Marais by 085 294 2911 gekontak word.

– tielman@nmh-hub.com.na