Voorloper Grootfontein brul volstoom voort

Klubrugby
Reho Falcon het rustyd voorgeloop teen FNB Wanderers, maar kon uiteindelik met geen ligapunt wegkom nie.
Andrew Poolman

Wikus Jacobs se FNB Grootfontein-span bly ná vier wedstryde in die NRU premierliga die enigste span wat nog nie verloor het nie.

Hul oorwinning met 66-25 teen FNB Rehoboth het Saterdag opnuut die maksimum ses ligapunte opgelewer, te danke aan hul sewe-plus drieë vir die dag (tien, om presies te wees).

Die wegwedstryd in die suide het uiteindelik vir die Grootfontein-span min ernstige uitdagings ingehou en Rehoboth bly wenloos ná vier wedstryde.

Wikus Jacobs (haker en kaptein) kon op gebruiklike wyse nie verhinder word om die doellyn oor te steek nie en het een drie bygedra. Agtsteman Johan Luttig (twee drieë), linkervleuel Lasarus Joseph (twee), senters Franklin Busch (twee) en AJ Vercuil, losskakel Rudi Pretorius en plaasvervanger-agterspeler Dhaamin Bassardien het die ander drieë ingeryg. Busch het agt keer met doelskoppe getref.

Rehoboth was in die meeste fasette op die agtervoet, maar hul vier drieë vir die dag was darem genoeg vir een bonuspunt. Regtervleuel Dolano Vries (twee), skrumskakel Jason Farmer en agtsteman Dilhen Daries het drieë gedruk, terwyl Denver Beukes (vyf punte) met skoppe geslaag het.

 

Wanderers konsolideer tweede plek

By die Wanderers-veld was dit verrassend toe FNB Wanderers met rustyd agter was (14-20) teen FNB Reho Falcon, hoewel dit deels aan die lastige en rukkerige wind teen hulle toegeskryf kon word.

Ná die omdraai was dit egter ‘n ander saak en Wanderers het uiteindelik met 47-23 gewen en twee bonuspunte met hul sewe drieë ingepalm.

‘n Geel kaart vir Wanderers se slot Ruan Ludick het sy eerste helfte ontsier, maar ná rustyd was hy terug om ‘n bevredigende drie met ‘n puik lopie van 30 meter vanaf ‘n slim aangee deur skrumskakel Dominique Isaacs te gaan druk.

Senter Ray-Eez Feris, vleuel Tolley Tjipute, flank Dhale Cloete, slot Kistings Minyoi, stut Hans Ngoshi en reserwe-senter SW Kuhn het die Wit Hingste se ander drieë gedruk. Ses van losskakel Wiks Tromp se doelskoppe was oor.

Met die wind van agter het Falcon se heelagter Casey Beukes ná tien minute ‘n skuins strafdoel vanuit sy eie helfte deur die pale gestuur (3-0). Skrumskakel Dillon Kahman het deurgeglip vir ‘n onverdoelde drie wat die swart truie met 8-7 voor geplaas het, maar Kahman se tweede drie uit ondersteunende spel en Casey Beukes se doelskop en strafdoel was hul laaste punte voordat Wanderers oorgeneem het.

• Uitslae, komende bepalings en ligastand by www.fnbrugby.my.na/

• Reserweliga: Reho Falcon se tweedes klop Wanderers II met 31-28; Grootfontein II (agt drieë) oorweldig Rehoboth II met 50-3.

– andrew@nsh.com.na