Vroue-Eagles se kanse steeds in hul eie hande

Krieket
Die Namibiese span kom vanoggend in Olympia teen Sierra Leone te staan.
Andrew Poolman
Die druk is op die gasheerspan Namibië wat geen verdere nederlaag sal kan bekostig nie indien hy sy kanse vir die ICC Vroue T20 Wêreldbeker-kriekettoernooi lewendig wil hou.

Die Capricorn Eagles het Sondagnamiddag met 32 lopies teen Zimbabwe vasgeval, nadat die toerspan 133 vir vyf in sy 20 boulbeurte opgestel het. Die gasheerspan kon net

Zimbabwe is een van die gunstelinge uit die agt spanne wat vir twee plekke na die wêreldwye kwalifiseringstoernooi sal deurdring. Die T20 Wêreldbeker vir vroue word van 30 September tot 2 November vanjaar in Sri Lanka en Indië aangebied.

Zimbabwe se kolfbeurt is deur hul kaptein Chipo Mugeri-Tiripano (39 van 31 valle, vier viere) bymekaar gehou, wat as nommer vier ingestap het. Weerskante van haar het die aanvangspaar Chiedza Dhururu (18 van 30 balle; 3x4) en Kelis Ndhlovu (23 van 22 balle; 4x4) en later Beloved Biza (22 van 19 balle; 4x4) ook tot hul totaal bygedra.

Die Namibiese kaptein Suné Wittmann se regterarm-naatboulwerk is met respek hanteer (2/11 in 4 boulbeurte; 2.75 per boulbeurt) en Eveleen Kejarukua was bykans net so ekonomies (1/15 in 4; 3.75 per boulbeurt).

Mekelaye Mwatile was die enigste ander bouler wat ‘n paaltjie kon inoes (1/32 in 4). Mekelaye het ook met Yasmeen Khan saamgespan om Zimbabwe se nommer drie Loreen Tshuma (9 van 14 balle) uit te hardloop.

In Namibië se kolfbeurt is Kayleen Green op die grenstou deur Beloved Biza uitgevang (12 van 14 balle; 3x4). Kaptein Suné Wittmann (23 van 29 balle; 3x4) het ‘n bal terug in die hande van die bouler Loreen Tshuma geslaan en Yasmeen Khan (21 van 23 balle; 3x4) het haar ook misgis toe sy op skerpby uitgevang is.

Mekelaye Mwatile is skoongeboul toe sy ‘n tree na die wegkant gegee het om vir haarself ruimte te skep (6 van 10 balle; 1x4), terwyl Edelle van Zyl (5 van 7 balle), Merczerly Gorases (1 van 6 balle) , Arrasta Diergaardt (0 van 7 balle) en Sylvia Shihepo (0 van 1 bal) nie teen die draaiers aan die gang kon kom nie.

‘n Vergeefse terugvegpoging is deur nommer agt Wilka Mwatile (24 nie uit nie van 14 balle; 2x4 1x6) van stapel gestuur wat ook die enigste ses van die kolfbeurt oor die skerpbygrens geslaan het.

Die kolfbeurt het egter op 101/8 ten einde geloop teen die gedissiplineerde Zimbabwiërs wat net twee wydlopers en twee foutballe afgestaan het.



Die toernooi se ander uitslae teen druktyd gister:

SONDAG: Nigerië (182/3) klop Sierra Leone (86.8) met 96 lopies. Rwanda (106/4, 19.0 bb) klop Kenia (103/6) met 6 paaltjies.

MAANDAGOGGEND: Zimbabwe (94/0 in 12 bb) klop Sierra Leone (93/9) met tien paaltjies. Tanzanië (125/8) klop Kenia (95 almal uit in 19.5 bb) met 30 lopies.



VANDAG se wedstrydbepalings:

09:30 by NCG: Tanzanië tn Rwanda.

09:30 by HP-ovaal: Namibië tn Sierra Leone.

14:30 by NCG: Uganda tn Kenia.

14:30 by HP-ovaal: Zimbabwe tn Nigerië.