Vrouespan gebruik Ierland o.19 as slypkans vir toer na Uganda
Afrigter Gerhard Lötter is heel in sy skik met die vertoning van die Namibiese vrouekrieketgroep, die Capricorn Eagles A-span, in die pas afgelope tuisreeks teen Ierland se o.19-vroue.
Lötter het gister saam met nog ’n plaaslike afrigter, Fortune Matawu, in Nederland aangekom as deel van hul ICC Vlak 3-kwalifisering as krieketafrigters.
Lötter is in sy skik dat die Namibiese vroue die reeks teen die Ierse jongspan met vier wedstryde teen twee kon beklink en sodoende hul wedstrydskerpheid kon opknap voor hul vertrek op ‘n toer na na Kampala vandeesweek.
Uganda, Namibië, die VSA en Rwanda maak gereed om mekaar van 3 tot 14 November in ’n vierhoekige T20-reeks te pak.
“Ons het vyf ekstra meisies in die groep ingesluit – vier van Windhoek en een van Walvisbaai – om hulle in die vinniger baan van blootstelling in die senior opset te plaas en te sien hoe hulle daarby aanpas,” het Lötter gister uit Nederland laat weet.
Ter afsluiting van ’n week van mededingende krieket by die HP-Ovaal is die laaste twee T20-wedstryde teen Ierland Saterdag (oggend en namiddag) afgehandel, waarvan die opgesomde uitslae soos volg was:
• Vyfde T20: Namibië Capricorn Eagles A (147/4 in 18.3 boulbeurte) klop Ierland o.19-vroue (145/6 in 20 bb) met ses paaltjies. Speler van die wedstryd: Mekelaye Mwatile (Namibië) – 79 nie uit nie van 54 balle (10x4, 2x6) en 1/40 in 4 beurte.
• Sesde en laaste T20: Ierland o.19-vroue (100/1 in 12.1 boulbeurte) klop Namibië Capricorn Eagles A (98/7 in 20 beurte) met nege paaltjies. Speler van die wedstryd: Rebecca Lowe (Ierland) – 58 nie uit nie van 47 balle (8x4, 1x6).
Die inisiatief deur Krieket Namibië het ’n waardevolle geleentheid vir ontwikkeling van vrouespel gebied deur ’n kombinasie van ervare senior spelers en jong, opkomende talent byeen te bring om mee te ding teen ’n internasionale jeugspan van Ierland, ’n volle lidland van die ICC.
Die reeks sal onthou word vir die uitstaande veelsydige bydraes van Mekelaye Mwatile, wat as die tuisspan se voorste lopiemaker na vore getree het. In vier wedstryde het Mwatile ’n indrukwekkende totaal van 225 lopies aangeteken, insluitend drie vyftigtalle, met ’n hoogste telling van 79. Sy het geëindig met ’n merkwaardige kolfgemiddeld van 112.5 en ’n kolftempo van 124,3.
Mekelaye het ook kans gekry om in twee wedstryde die rol as kaptein te vervul. Sy het die bykomende verantwoordelikheid aangegryp en die voorbeeld gestel, beide met die kolf en deur haar bydrae tot die span. Benewens haar prestasies met die kolf, het sy vyf paaltjies geneem.
Victoria Hamunyela het uitgeblink as die span se voorste paaltjienemer met vyf paaltjies in vyf wedstryde. Haar beste syfers was 3/16, terwyl sy ’n ekonomiekoers van 5.13 gehandhaaf het.
Wilka Mwatile was ook soos gebruiklik ’n belangrike lid van die boulaanval met vier paaltjies in vier wedstryde. Haar beste boulsyfers van 3/8 en ’n ekonomiekoers van 3.33 het haar doeltreffendheid onderstreep.
Met die kolf het Sunè Kotze-Wittmann nog ’n waardevolle bydrae gelewer – 95 lopies in vier wedstryde, met ’n hoogste telling van 44.
Ierland se o.19’s het in die derde kragmeting teruggeveg om dramaties in ’n “superboulbeurt” te wen, nadat die tellings gelykop geëindig het.



Comments
My Zone
No comments have been left on this article