Vyftigtal en paaltjies vir Erasmus red Eagles nie

Krieket
Oman het daarin geslaag om ondanks Gerhard Erasmus se vyftigtal die vereiste kolftempo buite die Eagles se bereik te stoot.
Andrew Poolman
Oman se vegtende karakter het gister vrugte afgewerp toe hy die reeks van vyf internasionale T20-krieketwedstryde teen die Richelieu Eagles-toerspan met een-elk gelykop gemaak het.

In die tweede kragmeting in Al Amarat het die Namibiërs gister met ses lopies verloor, nadat hulle die vorige dag met vier paaltjies aan die wenkant was.

Kaptein Gerhard Erasmus se veelsydige vertoning het baie selfvertroue gegee in sy terugkeer tot aksie nadat hy onlangs tydens 'n toer na Nepal 'n tussenribbesering opgedoen het. Met 'n vyftigtal en drie paaltjies het hy sy span so byna manalleen oor die wenstreep gekry. En is ondanks die nederlaag as speler van die wedstryd vereer

In die afwesigheid van JJ Smit, wat onlangs getroud is, Nicol Loftie-Eaton en Shaun Fouché wat vanweë dissiplinêre oorwegings nie oorweeg is nie, die beseerde Lo-han Louwrens asook Niko Davin het die Namibiese toerspan in Oman 'n veel meer jeugdige voorkoms as normaalweg.

Die toer is juis bestem as voorbereiding vir die twee nasies wat beide vir die naderende ICC T20 Wêreldbeker-toernooi in die Wes-Indiese Eilande in Juniemaand gekwalifiseer het en wat mekaar inderdaad in hul openingswedstryd op 2 Junie in Barbados sal ontmoet.

Gister se nederlaag sal deel van afrigter Pierre de Bruyn se databank vorm.

“Ons vertoning met die nuwe bal het te kort geskiet – beide as kolf- en boulspan,” het Erasmus ná gister se nederlaag gesê.

“Ons het lopies laat deurlek tydens die kragspel en met die kolf het ons ook nie goeie fondasies gestel vir die middel- en later kolwers nie.”

Oman het gister die loot gewen en gekies om te kolf. Erasmus het met sy draaiballe 'n keerpunt bewerkstellig toe hy in sy eerste boulbeurt beide die gevestigde Oman-kolwers verwyder het. Hy het uiteindelik met 'n puik 3/7 in drie boulbeurte geëindig.

Die blondekop Ruben Trumpelmann het meer deurgeloop voordat hy later met twee paaltjies teruggekap het om met 3/30 in drie te eindig. Hy het onder meer die gevaarlike Rafiullah (15 van 8 balle, twee sesse) deur Malan Kruger laat uitvang en met die volgende bal vir Mehran Khhan skoongeboul.

Ben Shikongo was die mees ekonomiese bouler vir die dag, met 1/12 in twee.

Oman se topkolwer vir die dag, die paaltjiewagter Pratik Athavale (38 van 26 balle, 3x4 2x6) is met sy telling op 5 deur Tangeni Lungameni van Shikongo se boulwerk misgevang. Net in die volgende boulbeurt kon Erasmus ook nie naby die grenstou in die terughardloop 'n moeilike vangkans van dieselfde man vashou nie, wat boonop vir 'n vier teen die grenstou gerol het.



MIN VENNOOTSKAPPE

Tydens die Eagles se kolfbeurt het JP Kotzé hom met sy tweede bal misgis en sy bypen laat raakboul met die span se totaal steeds op nul. Malan Kruger was volgende (gevang vir 8) en Jan Frylinck (0) moes op dieselfde telling terugstap, ondanks sy ontevredenheid met die b.v.p.-beslissing.

Zane Green (12 van 13 balle) het die eerste vennootskap met Erasmus aan die gang gesit, maar hy is ook b.v.p uitgegee en met Namibië se totaal op 46/4 n tien boulbeurte het hulle vereiste taak reeds op meer as nege per boulbeurt geklim.

David Wiese (14 van 13 balle) het sy voete gebruik vir 'n lang reguit ses en was ook daar toe Erasmus van sy 50ste bal sy vyftigtal op die telbord gebring het, maar toe die kaptein vir 58 lopies (56 balle, 5x4 1x6) uitgevang word, was die vereiste kolftempo reeds verby tien per boulbeurt.

In die geskarrel van die laaste boulbeurte het die druk egter te veel geraak op Bernard Scholtz (gevang vir 9), Dylan Leicher (uitgehardloop vir 8) en Tangeni Lungameni (12 nie uit nie van vier balle) – ondanks laasgenoemde se drie grenshoue in die laaste boulbeurt.

Vandag is 'n rusdag, voor die laaste drie T20-kragmetings Donderdag-, Vrydag- en Sondagnamiddag.