WHS glip verby Moria in liga se pylvak
Skolerugby
Die heersende titelhouer en enigste onoorwonne span Samsung Windhoek Hoërskool is vir die eerste keer hierdie seisoen boaan die puntelys van Namibiese Hoërskolerugby (NSSR) se o.19 premierliga, nadat hy aanvanklik minder wedstryde as die opposisie gespeel het.WHS se oorwinning Saterdag met 28-20 in sy wegwedstryd teen Compack Tsumeb Gimnasium het hom nou tot in die eerste posisie laat klim, verby OK Foods Moria Privaatskool wat vir die tweede keer vanjaar geklop is.
Op Tsumeb het WHS rustyd met 14-10 voorgeloop. Die wenspan se drieë is deur Isaiah Kazondovi (flank), regtervleuel Ethan Sinden (twee, vleuel) en heelagter William Beukes (heelagter) gedruk, wat al vier deur losskakel Mc-Rein van Wyk verdoel is.
Tsumeb Gimnasium se afrigter Wouter Niehaus sê: “Dit was ‘n klipharde wedstryd wat in ’n baie goeie gees gespeel is.
“Die telling was 21-20 in WHS se guns toe die skeidsregter sê die tyd is verstreke en dis die laaste lynstaan, van waar WHS toe ’n baie mooi drie gedruk het, .
“Dit was ’n baie emosionele dag, want senter FJ Fourie se pa Frikkie het voor sy dood (‘n week tevore) versoek dat FJ die wedstryd steeds moet speel, want hy wou nie hê sy seun se lewe moet tot ’n halt kom oor hom nie. Ons dank aan die NSSR, WHS en die skeidsregter mnr. Daniel Botes wat ingestem het dat ons die afskoptyd met ‘n halfuur kon vertraag sodat ons as span die gedenkdiens kon bywoon en sodat FJ kon speel.
“Dit was voorwaar iets besonders en ’n seëning dat FJ toe in so ’n wedstryd 15 van ons 20 punte aangeteken het.”
FJ Fourie se bydrae was ‘n drie, twee doelskoppe en twee strafdoele, met nog ‘n drie deur die agtsteman en kaptein Russel Bartlett.
Tsumeb (48 punte ná sewe wedstryde) is nou vierde ná Windhoek Gim (derde op 49 ná ses wedstryde).
Gim Leeus klop Moria
‘n Toonaangewende span vanjaar, OK Foods Moria van Outjo, was rustyd met 15-0 voor in sy kragmeting by King Price Windhoek Gimnasium se Lions Den, maar die Windhoekers het hulle reggeruk en met 32-20 gewen.
Die flank Fourie Steyn het twee drieë vir Gimnasium gedruk, tesame met een drie elk deur die regtervleuel Pieter-Stephann Stassen, losskakel JD Meintjies en hul agtsteman en kaptein Vincent Scholtz. Die senter JD Jankowitz het twee doelskoppe en ‘n strafdoel bygevoeg.
Pieter Willem Esterhuizen, afrigter van Moria, sê: “Die twee helftes het skerp verskil. In die tweede helfte is ons baie gestraf by die kontakpunte, wat nie soseer in die eerste 35 minute gebeur het nie.”
Gedurende die wedstryd was daar een geel kaart aan beide kante.
Moria se linkervleuel Drikus Maartens het in die tweede helfte een van sy span se mees gedenkwaardige drieë van die seisoen gaan druk, ná vroeër vyfpunters deur regtervleuel Ruan Brand en slot Romario Hoeseb. Die senter Bertus Narib het met een doelskop en ‘n strafdoel geslaag.
Windhoek Gimnasium se afrigter Mauritz Thirion het erkenning gegee aan Moria – “’n baie sterk span vanjaar wat verdien het om boaan die puntelys te wees. Met beserings en onbeskikbaarheid was ons span bietjie jonger as gewoonlik en Moria het ons veral in die eerste helfte opdraand gegee. Hulle was veral vinnig by die afbreekpunte.
“Dit was ‘n goeie karaktertoets en ek is trots op die seuns wat 32 punte in die tweede helfte aangeteken het. Ons sien uit na ons laaste twee wedstryde teen De Duinesig en InSpares Pro-Ed Akademie.”
Terugslag vir Naartjies
Namib Diesel Walvisbaai Privaatskool se strewe om vanuit die vyfde posisie ‘n eindpoging te lewer en in die topvier te eindig, is ‘n knou toegedien met sy naelskraapse nederlaag by Affiespark in die hoofstad.
Autohaus Windhoek Afrikaanse Privaatskool (sesde) het gewis een van hul hoogtepunte hierdie seisoen gelewer deur teen die verwagtinge in met 24-22 te seëvier (rustyd 12-3).
Windhoek Affies se diepte is reeds sedert die voorseisoen met ‘n string beserings gekniehalter en benewens Saterdag se wedstryd-23 het afrigter Johan Zaayman redelik beperkte opsies gehad. Sy manne onder kapteinskap van die senter Berndt Otto het nietemin vasgebyt en veral met hul verbintenis tot die verdediging uitgeblink.
Drie drieë in die tweede helfte deur Affies het die druk ten volle op die Walvisbaaiers geplaas, wat in die laaste sekondes ‘n doelskoppoging regs verby sien seil het om hul laat eindpoging vanaf 10-24 te kort te laat skiet.
Windhoek Affies se vier drieë is deur agtsteman Georg Otto, heelagter Carter Loubser, senters Berndt Otto en John Muyambango gedruk, met een doelskop elk deur Loubser en losskakel Ben de Wet.
Vir die Naartjies het slot Alijandro Naobeb, senter Baron van Wyk en plaasvervanger-regtervleuel Jaden Blaauw drieë gedruk, met een strafdoel en twee doelskoppe deur losskakel Adriaan Boonzaaier.
De Duinesig wen
Op Walvisbaai het die kombinasie van De Duinesig sy tweede oorwinning van die seisoen gevier, naamlik met 14-10 teen Elnatan.
Twee drieë (deur Dave Nyambe en David Silva), beide verdoel deur losskakel Sergio Pamplin, was genoeg om vir De Duinesig die volle nege ligapunte te verseker, omdat hulle gewen en meer drieë as die opposisie gedruk het. De Duinesig het vroeër ook met een punt teen Pro-Ed gewen en is nou sewende van die nege spanne.
Elnatan se enigste drie is deur senter Henru van Wyk gedruk, met ‘n doelskop en ‘n strafdoel deur loskakel Janco Esterhuizen.
• Uitslae, komende bepalings en ligastand by www.rugby.my.na/
Comments
My Zone
No comments have been left on this article