Zane Green draai vuurwerke oop
Klubkrieket
Twee gespeel, twee verloor, is waarskynlik nie die stand van sake wat APS Wanderers ná die openingsnaweek van Krieket Namibië se T20 premierligaseisoen sou verwag het nie.Wanderers is die heersende titelhouer, wat op 1 Desember verlede jaar die vorige eindstryd teen ATG WHS Old Boys met 103 lopies gewen het.
Die sterbelaaide Wanderers het hom egter eers teen Old Boys vasgeloop en daarna ook op spannende wyse sy botsing teen Trustco United met die laaste bal van die wedstryd verloor.
Wanderers het teen United 138 vir vyf opgestel wat rondom JJ Smit se haastige 68 nie uit nie (46 balle; twee viere, vyf sesse) gebou was. Smit het sy vyftigtal van 35 balle opgestel.
Nyashadzaishe Nyasha (22* van 15 balle) het vier viere geslaan in die tweede hoogste telling.
Vir United het aanvangskolwer WP Myburgh (41 van 37 balle) heelwat van die vereiste lopies afgekolf, met steun van Gerhard Janse van Rensburg (29 van 32 balle; 2x4) totdat laasgenoemde met ‘n besering af is.
Jan-Izak de Villiers het die laaste boulbeurt vir Wanderers geboul, waarin United 19 lopies van ses balle gesoek het, met vyf paaltjies plat.
United se nasionale paaltjiewagter Zane Green – wat sewe dae tevore die wenlopies vir die FNB Eagles in hul sensasionele T20-triomf teen Suid-Afrika aangeteken het – kon net 0 en 2 van die eerste twee balle aanteken, maar die 4 4 6 4 wat hierna gevolg het, het Green (49 nie uit nie van 27 balle; 5x4 2x6) opnuut sy span se held gemaak.
Old Boys klop Wanderers
Wanderers (128/6) kon aanvangskolwer JC Balt (64 van 54 balle; 1x4 4x6) en nommer vier Jan-Izak de Villiers (31 van 32 balle; 2x4 1x6) vir sy meeste lopies bedank.
WHS Old Boys se aanwins Louren Steenkamp het egter aanvallend gekolf vir 76 van 47 balle (4x4 5x6), met steun van Zacheo van Vuuren (23 van 20) en kaptein Shaun Fouché (21* van 27 balle). Steenkamp het sy vyftig van 38 balle behaal en was speler van die wedstryd in die oorwinning met agt paaltjies (ná 16.4 bb).
Tangeni Lungameni van Old Boys (4/12 in 4 bb) was die uitstaande bouler van die wedstryd en Jack Brassell (0/17 in 4) was ook ‘n hand vol. JJ Smit (0/10 in 3) was goed vir Wanderers.
United wen wéér met laaste bal
United (154/5) klop CCD Tigers (151/7) met drie lopies.
Speler van die wedstryd en kolwer nommer ses Handre Klazinga het United se tempo versnel met 44 nie uit nie van 19 balle (5x4 2x6), ná Erich von Molendorff se 35 van 29 balle (3x4 1x6).
CCD Tigers se Zhivago Groenewald (2/20) en Max Heingo (0/20) is redelik met respek hanteer, terwyl Simon Shikongo (2/20 in 3) vroeg deurgebreek het.
CCD Tigers se topkolwers Joshuan Julius (49 van 38; 7x4 1x6) en kaptein Nicol Loftie-Eaton (42 van 35 balle; 3x4 1x6) het die oranje span binne trefafstand gebring, maar kort toe nog 12 lopies van Klazinga se laaste ses balle, en kon net 8 bymekaar skraap.
Comments
My Zone
No comments have been left on this article