Zimbabwe beklink 'toets' tussen juniors

Rugby
Andrew Poolman
‘n Talentvolle Zimbabwe-span het Namibië met 35-23 oorskadu in ‘n beslissende wedstryd by die Rugby Afrika Onder-20 Barthes-toernooi in Harare.

‘n Luidrugtige tuisskare het Woensdagmiddag die Zimbabwiërs aangemoedig en hoewel die Namibiërs in sekere opsigte sterk verbeter het op die eerste dag se nederlaag teen Kenia, is hul aanspraak daarmee heen om in die eindstryd te verskyn.

Rustyd het die Namibiërs met 11-17 agtergeloop, maar hulle was nogtans vir langer tydperke in die wedstryd binne trefafstand as toe hulle op dag een ‘n groot agterstand moes inhaal voordat Kenia hulle met die laaste beweging met 34-28 gesink het.

Teen die talentvolle Zimbabwe-span wat so graag propvol selfvertroue en met spoed en flair vanuit hul eie helfte aanval, het die Namibiërs hul dissipline grootliks opgeskerp,.

Nogtans kon Namibië nie verhinder dat die gasheerspan tot groot vermaak van hul ondersteuners wys waarom hulle goed geplaas is om ná hul Rugby Afrika-titels van 2022 en 2023 ‘n driekuns agter hul naam te skryf nie.

Nadat Namibië hierdie toernooi vanaf 2012 tot 2018 opeenvolgend gewen het, kon hulle hierna net twee keer weer die eindstryd haal (2019 en 2022) en het beide kere verloor.

Linkervleuel Liam Dicks (UJ) het die eerste drie van die wedstryd gedruk en losskakel Van der Merwe Tromp (Noordwes-universiteit en WAP 2023) het twee strafskoppe bygevoeg, maar rustyd was hul span met ses punte agter (11-17) nadat Zimbabwe twee keer gaan druk het.

Met volgehou druk het Zimbabwe ook hul loskopstut vir ‘n drie oorgewerk om die voorsprong drie minute ná die hervatting tot 24-11 te laat aangroei.

Regtervleuel Jurgen Meyer (WHS 2023) het ‘n lugskoppie vir homself uit die lug gepluk en gaan druk vir Tromp se doelskop om die verskil te laat krimp.

‘n Tragiese onderskepping in die agterlyn toe Namibië ná 61 minute op die doellyn druk toegepas het, was die ommeswaai wat Zimbabwe se senter met ‘n wegholdrie besorg het (18-29).

Die haker en medekaptein Armand Combrinck het sy veggees gewys toe hy van ‘n tikskop naby die doellyn deur twee manne in die hoek oorgebars het vir ‘n onverdoelde drie. Twee strafskoppe vir Zimbabwe het die telling egter verder buite bereik gedruk.

Afrigter Allister Coetzee se manne sal môre ter afsluiting ‘n vernedering teen Tunisië moet afweer (afskoptyd 14:00). Die voorreg om 16:00 in die finaal te speel, behoort egter aan Zimbabwe en Kenia, omdat laasgenoemde die Noord-Afrikane met 56-17 oordonder het.