’n Gimtastiese atletiekbyeenkoms

Die afgelope naweek was die koppies rondom Stampriet die tuiste van die eerste Gimnasium atletiekbyeenkoms toe Roots Gymnasium, Windhoek Gymnasium, Walvisbaai Gymnasium en Oshana Gymnasium uit die vier hoeke van Namibië byeen gekom het om dié geleentheid te hou.
Zoë Karsten
As gasheer van die eerste atletiekbyeenkoms van sy soort, het Roots Gymnasium alles in sy vermoë gedoen om te sorg dat hierdie geleentheid een vir die boeke was.

Roots Gymnasium se skoolhoof, Johan Meyer, het sy opwinding oor die dag gedeel en was bly om die Gymnasium-familie - Oshana, Windhoek en Walvisbaai - op eie bodem te verwelkom.

Die My Zone-span is vroegoggend bederf met heerlike koppie koffie tydens die amptelike opening waar die vier skole hul optog gehou het. Daarna het die dag afgeskop met verskillende atletiekkodes, insluitend gewigstoot, skyfwerp, spiesgooi, verspring, en natuurlik die baan items.

Ten spyte van ’n snikhete dag waar die kwik teen middagete by 35ºC gedraai het, was dit sigbaar op elke deelnemer se gesig dat dié atletiekdag groot pret is.

Roots Food het gesorg dat daar heeldag smaaklike versnaperinge was en die "slush puppies" het gehelp om almal af te koel.

Dit was verblydend om soveel ouers en ondersteuners langs die baan te sien.

Colette Rieckert, bestuurende direkteur van Curro-opvoeding in Namibië, het aan My Zone gesê: “Dit is net die begin van al hierdie soort geleenthede. Vandag is nog net die laerskole se atletiek, maar volgende jaar gaan ons die hoërskole ook betrek. So sal ons elke jaar as familie van die Gymnasium skole bymekaar kom en ’n wonderlike dag saam geniet.”

Baie geluk aan Liam-Rae Abrahams wat aangewys is as die Victor Ludorum en Liya Zhong as Victrix Ludorum. Beide leerlinge is van Walvisbaai Gymnasium.