Jeugkampus skep veilige ruimte vir jong mans

Jong mans word aangemoedig om stilte te verbreek, ondersteuning te soek
Die #BeFreeBallers: Next Gen Men-geleentheid het jong mans byeen gebring is vir gesprekke oor manlikheid, emosionele welstand en persoonlike ontwikkeling.
Desmarius Hansen

Ter viering van die Internasionale Dag van die Seunskind het die One Economy-stigting op 15 Mei 2026 die #BeFreeBallers: Next Gen Men-geleentheid by die #BeFree jeugkampus aangebied. Die byeenkoms het jong mans byeen gebring vir eerlike gesprekke oor konstruktiewe manlikheid en emosionele welstand.

Die direkteur van bedrywighede by die stigting, Saddam Biwa, het die toon aangegee deur te beklemtoon dat stilte teen 'n duur koste kom. Hy het gesê dit is belangrik om ruimtes te skep waar jong mans veilig genoeg voel om openlik oor hul uitdagings en druk te praat.

Die hoofspreker, uitvoerende hoof van SanlamAllianz Investments, Tega Shiimi Ya Shiimi, het openhartig oor sy eie lewensreis gepraat. Hy het erken dat hy foute gemaak het, maar beklemtoon dat groei kom wanneer ’n mens verantwoordelikheid aanvaar en doelbewus kies watter soort man jy wil wees.

Sy boodskap het jong mans aangemoedig om te besef dat foute nie hul toekoms hoef te bepaal nie.

Schalk Botha het gewaarsku teen die gevare van emosionele onderdrukking en gevoelens van skaamwees. Hy het verduidelik dat die idee dat mans altyd sterk en dominant moet wees, dikwels verhinder dat hulle hulp soek of eerlik oor hul stryd praat.

Regsadviseur en mentor Rachimo Haradoeb het sy persoonlike verhaal gedeel oor hoe die verkeerde besluite uiteindelik tot 25-jaar tronkstraf gelei het. Hy het jong mans aangemoedig om ondersteuning te soek en nie hul laste alleen te dra nie.

Benewens die hoofverhoog het gesprekke voortgeduur by interaktiewe stasies oor kommunikasie, seksuele en reproduktiewe gesondheid, identiteit en persoonlike groei. Die “Know Your Numbers”-stasie het deelnemers ingelig oor roetine-toetse en verantwoordelike gesondheidsbesluite.

Gerson Neumbo, lid van die kinderparlement, het gesê die sessies het gewys dat selfs suksesvolle leiers uitdagings beleef en daaruit groei.

Die stigting se ondersteuning vir jong mans strek verder as net een dag, deur weeklikse programme soos #MajitaMondays, wat fokus op konstruktiewe manlikheid, aanspreeklikheid en persoonlike ontwikkeling.