Ons groet ons geliefde skoolhoof, Meneer Tinus

Amaré van der Merwe
Amaré van der Merwe

Ter ere van Privaatskool Elnatan se geliefde skoolhoof, het die redaksiespan ’n berig toegewy aan sy lewe en loopbaan.

Nadat Meneer Tinus matrikuleer het aan die Hoërskool Mariental, het hy sy tersiëre opleiding begin deur ’n B.A.-graad te verwerf aan die Universiteit van die Vrystaat. Daarna het hy sy Nagraadse Onderrigsertifikaat by die Universiteit van Suid-Afrika ontvang. Dit is toe wat hy sy vrou, Mariana, ontmoet en na twee jaar is hulle getroud. In 2005 is hulle eerste kind Marion gebore waarna nog vier kinders gevolg het.

Meneer Tinus het in 2006 die eerste keer te doen gekry met Privaatskool Elnatan toe hy as ’n onderwyser en afrigter diens gedoen het. Vanaf 2012 tot 2018 het hy by die Privaatskool Keetmanshoop as skoolhoof gedien. Na sewe jaar het hy terug gekeer na Privaatskool Elnatan om hier as skoolhoof te dien.

Die passie en liefde wat Meneer Tinus getoon het teenoor sy werk, sy mede-kollegas en die leerlinge, het elke persoon spesiaal laat voel. Sportafrigting was een van sy gunsteling dinge aangesien hy betrokke was by die rugby, jukskei en krieket.

Privaatskool Elnatan neem afskeid van ’n skoolhoof wat elke kind op sy naam geken het, ’n groot rol by sport gespeel het en homself op alle vlakke gehandhaaf het. Hoewel hy die skool as skoolhoof verlaat bly hy steeds ’n Elnatan-ouer.

So groet ons hom heel gepas met ’n Napso Privaatskolenaweek op sy geliefde sportgronde van Elnatan.