Rekords tuimel by Napso-atletiek

Junior Kapofi
Die Namibiese Privaatskole Organisasie (Napso) het onlangs sy jaarlikse atletiekkampioenskappe by die Vineta Stadion in Swakopmund aangebied om die talent van jong atlete van 21 skole regoor die land op die voorgrond te plaas.

Dié byeenkoms wat deur Walvisbaai Privaatskool (WBPS) aangebied is, het gespog met indrukwekkende vertonings van talent en die vasberadenheid van meer as 1 000 atlete. Boonop is meer as nuwe 20 rekords opgestel – waarvan sommiges sedert 2009 gestaan het.

Met betrekking tot die strawwe kompetisie by vanjaar se byeenkoms, het WBPS se sportkoördineerder Henry Kemp gesê: “Ons is gewoond aan dieselfde name wat hierdie kompetisie domineer, maar hierdie jaar was dit anders, aangesien kinders wat nie gewoonlik op die podium is nie, hard gewerk het en daarvoor beloon is.”

Een van die mees uitstaande atlete was Magano Naseb van Oranjemund Privaatskool, ’n nuweling by die Napso-atletiek, maar ’n bekende naam in sportkringe. Naseb het die o.19-seuns 100 meter- en 200 meterafstande oorheers en het beide rekords verbeter. Met ’n uitstkeende 21.69 sekondes in die 200 meter, het Naseb die 2012 rekord van 21.76 sekondes deur Pierre Conje van Tsumeb Gymnasium verbeter, so ook in die 100 meter het Naseb in 10.71 sekondes die eerste plek ingepalm en daarmee Cronje se rekord van 10.96 sekondes wat ook in 2012 opgestel is, oortref.

Naseb het gesê dat hy vanjaar van plan is om ’n nuwe nasionale o.18-rekord te stel, vandaar ook sy uitstekende vertoning. Hy het bygevoeg dat hy aan die Namibiese Senior Nasionale Atletiekkampioenskappe gaan deelneem met die hoop om te kwalifiseer vir die o.20 Wêreldkampioenskappe wat later vanjaar in Peru plaasvind.

Uitstaande resultate is ook opgelewer deur Stiaan Lewis (7) van Berg-Op Akademie en Carla Wilken van Windhoek Afrikaanse Privaatskool (WAP) vir die beste individuele prestasie en beste veldatleet in die 7–19 ouderdomsgroep. Hanro Wynjeterp (10) en Lumé Jansen van Rensburg (15), beide van WAP, is huis toe met die titel van beste baanatleet in hul onderskeie ouderdomsgroepe, terwyl Lumé ook die toekenning vir beste senior vroue-atleet (15–19) ontvang het. Etienne Lombaard (17) van WAP is uitgewys as die beste senior mansatleet (15–19) terwyl Ashley Martins (13) van WBPS en Markus Visser (7) van Pro-Ed Akademie gekroon as die top junior atlete (7–13).

WAP se dominansie is verder vasgelê deur meer as tien atlete wat top-prestasies in hulle ouderdomsgroepe gelewer het.

Die volgende Napso-byeenkoms is die Privaatskole-naweek wat van 1 tot 4 Mei op Stampriet plaasvind. Dié byeenkoms wat deur Elnatan aangebied word, beloof om nog ’n opwindende vertoning van Namibië se jong sporttalent te wees.