Susters maak skuiwe by skaakkampioenskappe

Drie susters van Swakopmund het Namibië by die Afrika-jeugskaakkampioenskappe verteenwoordig.
Phillipus Josef
Drie susters van Swakopmund – Amelia (13), Annelise (12) en Angelique Brown (9) – het vir die eerste keer die nasionale skaakspan gehaal en daarmee meegeding teen die vasteland se topspelers by die Afrika-jeugskaakkampioenskappe wat onlangs in Suid-Afrika plaasgevind het.

In die o.10-ouderdomsgroep het Angelique 17de plek uit 40 deelnemers behaal, terwyl Amelia 33ste uit 42 spelers in die o.14-ouderdomsgroep geëindig het. Annelise was Namibië se topdeelnemer met haar vyfde plek in die o.13-ouderdomsgroep.

Amelia

“Ek het skaak ernstig begin speel nadat ek by die skool daaraan as 'n vak blootgestel is. My afrigter en ouers het my aangemoedig om harder te oefen en aan meer toernooie deel te neem,” sê sy.

Ten spyte van struikelblokke by die internasionale toernooi, bly Amelia gemotiveerd: “Om wedstryde te verloor kan baie demotiverend wees, maar ek herinner myself dat elke verlies ’n les is.”

In die toekoms beoog sy om Namibië by ander wêreldkampioenskappe te verteenwoordig en om ’n FIDE (Internasionale Skaakfederasie)-titel te wen.

Angelique

Selfs op haar jong ouderdom toon Angelique reeds potensiaal. Haar ouers speel ’n kern rol in haar skaakloopbaan en ondersteun haar toernooideelname en weeklikse lesse.

Voor sy wedstryde speel, gebruik Angelique asemhalingstegnieke en sê Psalms op om kalm te bly.

“Dit help my om rustig te raak wanneer die groot kampioenskappe te senutergend word," vertel sy.

Annelise

Haar liefde vir skaak het in 2020 begin.

“My ma het my aangemoedig om by ’n skaakklub aan te sluit en my afrigter het my gehelp om te verbeter deur skaakraaisels en -taktieke te oefen,” verduidelik sy.

’n Hoogtepunt vir haar is toe sy drie FIDE-gradeerde spelers by die Afrika-jeugskaakkampioenskappe laat les opsê het en haar eie FIDE-gradering van 1619 ingepalm het. Haar toekomstige doelwit is om ’n FIDE-titel te behaal.

Hul ouers se ondersteuning is van onskatbare waarde. Hulle dek die koste van lesse en toernooie. Pa Andrew sê hy is baie trots op hulle vordering deur die jare en is opgewonde oor wat in die toekoms vir hulle voorlê.

“Dis lekker om te sien hoe hulle karakters ontwikkel deur skaak. Aanvanklik was daar baie senuwees en trane as hulle verloor, maar nou is hulle vreesloos en bereid om enigiets aan te pak.”