Atletiekbyeenkoms van begin tot einde vol hoogtepunte
Die NAPSO nasionale atletiekbyeenkoms het die afgelope naweek by Privaatskool Elnatan op Stampriet plaasgevind en dit was een vir die boeke.Daar was noue oorwinnings, rekordbrekers en ongelooflike prestasies van al die atlete wat deelgeneem het. Een ding is verseker: Hierdie byeenkoms gaan nog lank in mense se herinneringe bly.
Mense vergeet vinnig dat so ‘n byeenkoms nie net van self kan plaasvind nie, en dat daar maande se voorbereiding is wat daarin steek.
Ons het met juf Izaan van Schalkwyk gesels, wat die hoof is van Elnatan se atletiekkomitee en soos mnr Johan Adriaanse gesê het: “Niks wat julle vandag hier sien sou moontlik gewees het sonder haar nie”.
Sy het vir ons meer insig gegee oor hoe sy dit ervaar het om so 'n groot byeenkoms aanmekaar te sit.
“Vir 'n klein plattelandse skooltjie wat ver van alles is, het ons vreeslik hard gewerk om dit moontlik te maak. Ons het dag en nag geswoeg en gesweet om seker te maak dat alles vlot verloop," het sy gesê.
Elnatan se atletiekkomitee en span het werklik geslaag daarin om ‘n ongelooflike mooi en goed-georganiseerde byeenkoms aanmekaar te sit.
Die byeenkoms het afgeskop met 'n verwelkoming deur Adriaanse, waarin hy die atlete sterkte toegewens het en herinner het dat “op die einde van die dag is goeie sportmangees baie belangriker as ‘n oorwinning.”
Daarna het Henre Opperman van Gobabis Gimnasium ‘n kragtige rendisie van die NAPSO lied gelewer.
Die byeenkoms het begin met 70m en 75m hekkies op die baan en alles van diskus tot staande verspring op die veld. Die gees van nie net die atlete nie, maar ook die toeskouers, was tasbaar en het alles saamgewerk om die byeenkoms so suksevol te maak.
Alles het oor ‘n twee-dag tydperk plaasgevind en die gees en opwinding het nie vir ‘n enkele oomblik vervaag of verdwyn nie.
Die stof het gaan lê, die skare is huis toe, maar die eggo van die atlete se triomfe gaan vir ‘n lang tyd nog voortleef. Hierdie NAPSO byeenkoms het baie meer as net medaljes opgelewer; dit was 'n vertoonvenster van die jong atlete se onblusbare gees.
Comments
My Zone
No comments have been left on this article