Hier is vanjaar se Griffelweners!

Leerlinge van regoor Namibië het vanjaar weer hul kreatiwiteit en skryftalent ten toon gestel in die jaarlikse Nasionale Waltons-Griffelkompetisie.
Zoe Karsten
Die jaarlikse Waltons-Griffelkompetisie, wat in 2007 van stapel gestuur is, het alle leerlinge van graad 5 tot 12 in Namibië genooi om hul mees kreatiewe idees op papier vas te lê en só ‘n kans te staan om erkenning en ‘n kontantprys te wen.

Die uitslae is op 3 Oktober aangekondig en hier is die uitblinkers!

In die kortverhaal-afdeling vir graad 5 tot 7 het Clarissa Krige die eerste plek behaal, gevolg deur Kaera-Lee Eksteen in die tweede plek en Sanelle Jansen van Vuuren in derde.

In die digkuns vir graad 5 tot 7 het Liha Tromp koning gekraai, terwyl Andrea Swart tweede geëindig het en Klara Alma van Graan die derde plek ingepalm het.

Die kortverhaal-afdeling vir graad 8 tot 9 is gewen deur Jaden Engelbrecht, met Anika Hepkema in tweede en Philip van Rensburg in die derde plek.

In die digkuns-afdeling vir graad 8 tot 9 het Wiehann Pieterse as wenner uit die stryd getree. Dandré Uys het tweede geëindig en Leah Powell het die derde plek behaal.

Luca Coffee is gekroon as die wenner in die kortverhaal-afdeling vir graad 10 tot 12, met Fanie Gouws wat die tweede plek beklee en Marna van Zyl in die derde plek.

Coffee het opgewonde vertel dat hierdie die perfekte platform is "om met jou pen te woeker, jou idees op papier te sit en Godgegewe talente met ander te deel.”

Laastens het Wilhelm Pieterse die digkuns-afdeling vir graad 10 tot 12 gewen. Zaria Jansen van Vuuren het tweede plek ingepalm terwyl Andrew Chatwind derde geëindig het.

Yandi du Plessis, 'n onderwyseres by Windhoek Afrikaanse Privaatskool, deel die volgende: “Windhoek Afrikaanse Privaatskool, as die fasiliteerder van die Nasionale Waltons-Griffelkompetisie, wil graag elke deelnemer gelukwens – veral die wenners – en almal aanmoedig om aan te hou skryf. Weer eens wil ons ook vir Waltons bedank vir hul getroue en volgehoue ondersteuning van dié skryfkompetisie.”