Koorfees vier Namibiese talent by FNB Windhoek Woordfees

Annemarie du Toit
Die FNB Windhoek Woordfees se Koorfees het Sondagaand die stad se harte warm gesing, met ’n verskeidenheid kore wat die verhoog met passie, talent en samehorigheid gevul het.

Onder leiding van seremoniemeester Rias Oberholzer is lede van die gehoor verwelkom in ’n wêreld van harmonie en emosie.

Die aand is feestelik begin met optrede van die Curro Windhoek Gimnasium Sekondêre Koor, wat met hul helder stemme en presiese harmonie die atmosfeer vir die res van die program gestel het. Hulle is gevolg deur die skool se Junior Primêr Koor, wie se jong sangers nie net opwinding en energie gebring het nie, maar ook ’n paar stoute giggels in die mou gehad het – tot groot vermaak van die gehoor.

Die Collective Singers het daarna die verhoog betree met ’n vertoning wat letterlik ’n prentjie so mooi geskep het dat dit trane in menige oog gebring het.

Koorlie Gabè Hornimann het voor hulle optrede geesdriftig gepraat oor hoe die Woordfees ’n waardevolle platform is om koorsang in Namibië te bevorder.

Van daar af het die Khomas Diverse Choir die gehoor op ’n reis geneem wat nie net hul musikale talent uitgelig het nie, maar ook hul trots om hul identiteit aan Namibië én die wêreld te wys. “Dis vir ons ’n gulde geleentheid om te wys wie ons is,” het koorleier Johann Malgas gesê.

’n Hoogtepunt van die aand was ongetwyfeld die kragtige duet van Sanet Lambrechts en Rohann Linde, wat met hul uitvoering van "Dorsland" die verhoog laat skitter het. Die emosionele intensiteit van hul vertoning het vir ’n oomblik die saal in absolute stilte gehul.

Die aand is afgesluit deur die Windhoeker Männechor, wat hul kenmerkende, diep harmonies en sterk tradisies na die gehoor gebring het. Die klanke van hul samehorige stemme het lank ná die laaste noot in die gehoor se harte bly hang.

Die Koorfees het nie net gesorg vir ’n musikale hoogtepunt in die Woordfees-program nie, maar het ook gewys dat Namibië oor ’n skatkis van koortalent beskik wat gereed is om wêreldwyd gehoor te word.