Naartjie by die SA-redenaarsfinaal!

Lianke Janse van Vuuren
Joeke Janse van Vuuren het Namibië trots verteenwoordig toe sy in Augustus aan die AKTV-redenaarskompetisie deelgeneem het.
Mamsey Musweu

Joeke Janse van Vuuren, ’n trotse volbloednaartjie, was in Augustus by Goudini Spa in Suid-Afrika vir die AKTV-redenaarskompetisie. Sy het die eerste plek in die kategorie voorbereide redenaars vir graad 8 en 9 in Namibië behaal en sodoende na die finaal in Suid-Afrika deurgedring. Sy was een van die 297 kinders uit 10 000 wat na die finale rondte deurgedring het.

Joeke was vyf dae in Suid-Afrika saam met haar familie, wat haar ondersteun het. Sy sê: “Dit was ’n ongelooflike ondervinding om daar te kon kompeteer en ’n groot ervaring om saam met Suid-Afrikaners te kon debatteer.”

Sy voeg by dat die Suid-Afrikaners op ’n ander vlak is met hulle toesprake en taalgebruik. Sy het dit baie geniet om by Goudini Spa te bly en sê: “Dit is ’n pragtige plek en ek is so dankbaar dat die Here my met so ’n wonderlike talent geseën het.”

Sy sien daarna uit om volgende jaar weer aan die kompetisie deel te neem en om nog baie meer sulke geleenthede te hê.