NAPSO Blits 7’s skop wintersportseisoen af

Twee dae van sport, proewe en gemeenskapsgees
Die Namibiese Privaatskole Organisasie se gewilde Blits 7’s-toernooi vind Vrydag en Saterdag by Affies Park plaas, waar jong sporttalent hul vaardighede vertoon.
Rozanne Swart

Dit is weer tyd vir die Namibiese Privaatskole Organisasie (NAPSO) Blits 7’s. Vanjaar vind die geleentheid op 10 en 11 April plaas en word dit deur Windhoek Afrikaanse Privaatskool (WAP) by hul tuiste, Affies Park, aangebied.

NAPSO voorsitter Kobus Espach sê die Blits 7’s-naweek word gebruik as ’n geleentheid vir spelers om hul vaardighede op te skerp.

Schalk van Wyk, sportdirekteur by WAP, voeg by: “Hierdie is die begin van die wintersportseisoen en belowende talent kry die geleentheid om hulself op die sportvelde en -bane uit te leef.”

Oor die verloop van die twee dae vind daar wedstryde en proewe vir die NAPSO-wintersportspanne plaas. Espach sê hierdie is om die NAPSO-toerspanne te finaliseer vir rugby, netbal en hokkie se o.13- sowel as o.19-spanne.

Karla Terblanche, ’n o.19-netbalspeler by WAP, het die belangrikheid van die Blits 7’s-geleentheid vir spelers soos sy beklemtoon. “Hierdie geleentheid is werklik belangrik aangesien dit ons toegang en blootstelling gee om teen spelers van ander streke mee te ding.”

Sy voeg by dat spelers by sulke NAPSO-geleenthede altyd nuwe vriendskappe bou en weer met ou maats opvang.

Die Blits 7’s gaan nie net daaroor om spanne te verbeter en uitblinkers uit te wys nie; dit gaan ook oor die opbou van die NAPSO-gemeenskap.

Aldus Espach: “Soos in die verlede, dien die geleentheid ook vir skole as ’n fondsinsameling, waar NAPSO-ouers ander skole finansieel ondersteun om fasiliteite te verbeter tot voordeel van alle NAPSO-skole.”

Rakende die veiligheid van spelers en toeskouers het Van Wyk gesê daar is ekstra sekuriteit gereël wat die perseel en parkeerareas patrolleer om almal se veiligheid te verbeter. "Die nodige mediese bystand is ook gereël om te verseker dat enige beserings vinnig en effektief behandel word."

Saam met die NAPSO Blits 7’s bied WAP ook die jaarlikse Affiesfees aan. Dit vind Vrydagaand by Wanderers plaas. Van Wyk noem dat WAP dit spesiaal so beplan het dat alle NAPSO-skole dit saam met hulle tydens die geleentheid kan vier.