NIRO rig fokus op toekomsbeplanning vir Namibiese jeug

Annemarie du Toit
“Waarheen is jy oppad?”

Só lui die vraag wat die Namibiese Instituut vir Navorsing en Organisasie (NIRO) onlangs aan leerders van verskeie hoërskole gerig het tydens hul loopbaanvoorligtingskonferensie wat op 15 Julie by DW Auditorium plaasgevind het.

Met die einde van hul skoolloopbaan in sig, word Graad 11- en 12-leerders gekonfronteer met belangrike keuses oor hul toekoms. Die geleentheid, wat goed bygewoon is deur leerders van regoor die land, het ten doel gehad om rigting en insig te bied rakende moontlike loopbaanrigtings en die vereistes van ’n vinnig veranderende arbeidsmark.

Verskeie kundiges vanuit uiteenlopende sektore – insluitend hernubare energie, akademie, tegnologie en ontwikkelingsbeplanning – het met die leerders gesels oor hul onderskeie velde en die geleenthede wat dit vir jongmense inhou.

Mnr. Ian Gicheru van die Namibiese Beleggingsbevorderings- en Ontwikkelingsraad (NIPDB) het die gesprek gelei rondom ontluikende markte en die vaardighede wat in die toekoms van belang sal wees.

Hy wou weet: “Wat is toekomsvaardighede – en hoekom is dit belangrik?” en leerders aangemoedig om hul loopbaanbeplanning te grond op die behoeftes van die toekoms eerder as die verwagtinge van die verlede.

Mnr. James Mnyupe, ekonomiese raadgewer in die kantoor van die president en verteenwoordiger van die ministerie van mynwese en energie, het insiggewende perspektiewe gebied oor Namibië se groenwaterstof-sektor. Hy het die potensiaal van dié groeiende industrie uitgelig, met spesifieke verwysing na die werksgeleenthede en internasionale betrokkenheid wat dit vir jong Namibiërs kan bring.

In haar sessie getiteld Tech Talk, het Georgina van die Duitse Ontwikkelingssamenwerking (GIZ) die rol van Kunsmatige Intelligensie (KI) in onderwys uiteengesit. Sy het verduidelik wat KI is, hoe dit werk, en hoekom dit as ’n waardevolle hulpmiddel vir die toekoms van leer beskou word. Volgens haar kan KI onderwys meer toeganklik, persoonlik en doeltreffend maak – mits dit eties en strategies geïmplementeer word.

Me. Roadine Willemse, ’n verteenwoordiger van NIRO, het die belangrikheid van gefokusde deelname deur die jeug beklemtoon: “Hierdie is nie bloot ’n plek waar julle pamflette kom optel en dan later weggooi nie. Julle is hier om kennis in te win,” het sy gesê.

Dr. Annelisa Murangi, dosent verbonde aan die Universiteit van Namibië (UNAM), het die klem geplaas op emosionele intelligensie as ’n dikwels misgekykte maar kritieke komponent van studente se sukses. Sy het verduidelik dat studente dikwels voorbereid is op akademiese uitdagings, maar nie noodwendig op die innerlike balans wat nodig is om sinvolle keuses te maak nie. “Die grootste fout wat studente maak wanneer hulle universiteit toe gaan,” het sy gesê, “is dat hulle nie gegrond bly in wie hulle is nie, en vergeet waarom hulle daar is.”

Die konferensie is met groot waardering deur die leerders ontvang.

NIRO het die belang van deeglike navorsing, deelname aan internskappe en ’n volgehoue fokus op persoonlike drome en doelwitte beklemtoon. Die organisasie het ook ’n beroep op die breër gemeenskap en werkswêreld gedoen om meer betrokke te raak by die voorbereiding van jongmense vir ’n voortdurend ontwikkelende ekonomie.

Deur mentorskap, kennisdeling en toegang tot relevante netwerke, poog NIRO om die Namibiese jeug toe te rus met die gereedskap wat nodig is om hul volle potensiaal te bereik.