Van plaaslike paaie na Europese atletiekbane
NAPSO atlete reg om wêreld aan te pak
NAPSO het hul 15-persoon span atlete aangekondig wat later vanjaar na Europa toer.
Die Namibiese Privaatskool Organisasie (NAPSO) het die 15 jong atlete aangekondig wat die geleentheid van ‘n leeftyd kry om in Junie en Julie vanjaar na Europa te reis om vir die eerste keer in NAPSO geskiedenis op 'n internationale vlak te kompeteer.Hulle is Sakaria Kondjila, Jaco Potgieter en Ninke Laubser (Edugate Akademie); Jano Kruger (Elnatan), Makayla Strauss (Keetmanshoop Privaatskool); Sibona Amamub en Danelle Scholtz (Moria); L’Wyk Viljoen (Pro-Ed); Matthew Coetzee (Privaatskool Swakopmund); Karla Terblanche, Marloene Lassen, Nicolize Lombaard, Kaylin Mayers en Etienne Lombaard (WAP) en Ashley Martins (Walvisbaai Privaatskool).
Kondjila het gekwalifiseer met sy sprong van 6.78m in verspring, 10.73s in 100m en 22.17s in 200m, terwyl Potgieter gekwalifiseer het vir 200m, 400m, 100m hekkies en 400m hekkies, en Laubser vir die 00m, 200m, 90m hekkies en 300m hekkies.
Amamub het gekwalifiseer vir sy uitstekende tyd van 2:02:78s vir 800m en 50.81s vir 400m. Scholtz sal deelneem in die 200m en 400m.
Leerlinge van WAP wat gekwalifiseer het is Terblanche met 43.31m vir spiesgooi; Lassen in 100m, 200m en verspring; Lombaard in 100m en 200m; Mayers in 200m, 400m en hoogspring; en Lombaard vir die 100m, 200m, 110m hekkies en 400m hekkies.
Elnatan se deelnemers is Kruger vir sy 11.35s in die 100m, 15.22s in die 110m hekkies en 6.70m vir verspring.
Strauss van KPS neem deel aan diskus met ‘n kwalifiserende afstand van 42.65m. Viljoen van Pro-Ed neem deel aan gewigstoot en diskus; Coetzee van PSS neem deel aan die 100m en 200m; en Martins van WBPS neem deel aan verspring en spiesgooi.
Die uitvoerende hoof van NAPSO Johan Fourie het gesê dit is die eerste keer wat hierdie Europese byeekoms Namibiese atlete sal verwelkom. “Dit is vir ons 'n voorreg om hierdie kinders Europa toe te neem en vir hulle blootstelling te bied wat hulle nie in Namibië sou kry nie.”
Vir hierdie leerlinge is dit meer as net ‘n sportreis; dit is 'n lewensveranderende geleentheid.
Fourie vertel voorts die span sal middel Junie vertrek en einde Julie terugkeer na Namibië. Die toer volg 'n roete deur Ysland, Swede en Duitsland en party gaan ook in Nederland deelneem.
“Dit is regtig ‘n voorreg om hierdie span bymekaar te kon maak,” het Fourie gesê en daarmee vir die afrigter Henk Botha en sy dogter Karlien bedank vir hulle passie vir sport en die kinders van NAPSO.
Comments
My Zone
No comments have been left on this article